Kom ons klaar net gou een ding op: Jy is nie noodwendig ’n slegte mens as jy in ’n groot huis woon met elke denkbare gerief rondom jou nie. Niemand oordeel jou nie – tensy jou huis natuurlik omring word deur wagtorings, landmyne en ’n grag wat wemel van piranhas… dan het jy waarskynlik professionele berading nodig.
Net so verdien niemand wat in ’n plek so groot soos ’n instapkas woon om outomaties ’n hippie of deugniet genoem te word nie (en as hulle daarvan hou om ’n akoestiese kitaar te tokkel, van daai sigarette rook, rou groente eet en hulle kinders tuis onderrig, is dit mos hulle saak).
Waarom afskaal tot ’n klein huis?
Wel, eerstens is dit in die algemeen omgewingsvriendeliker as ’n konvensionele huis. Kleiner huise maak minder van ’n inbreuk, word heel dikwels van hout of herwinde materiaal soos vraghouers gebou, werk goed wanneer jy op eie stoom en sonder enige netwerk wil leef, en is makliker om skoon én in stand te hou. Sulke huise gebruik minder hulpbronne soos water en elekrisiteit en is gewoonlik meer kostedoeltreffend vir eerstehuiskopers – ’n belangrike oorweging in ’n tyd dat die gemiddelde huislening rondom R1 miljoen staan.
Soos een wyse anonieme siel dit stel: “Sommige mense wil ’n groot huis, ’n vinnige kar en baie geld hê. Ander hunker na ’n klein houthuis iewers in ’n woud – ver weg van sulke mense af.”
Maar in werklikheid gaan Suid-Afrika se kleinhuisbeweging – wat ’n verskeidenheid van permanente strukture én piepklein pophuise-op-wiele insluit – glad nie oor stereotipes nie. Ons praat van doodgewone avontuurlustige ouens met beperkte middele, professionele jong pare met hope