Eens op ’n tyd was politiek, godsdiens en persoonlike geldsake die drie neteligste onderwerpe wat g’n “opgevoede” mens veronderstel was om in “ordentlike geselskap” te opper nie. Deesdae kan jy maar “vegan” ook by dié lysie van taboes voeg – op die sosiale media sien ’n mens byna daagliks hoe party karnivore die stuipe kry as ’n uitgesproke veganis lostrek met ’n loflied aan lensies.
Brett Bard is een van hierdie vegan- en diereregte-aktiviste, maar beslis van die minder lawaaierige soort, al is die vensters van sy bakkie se kappie beplak met boodskappe soos “Humane milk/meat is a myth, don’t buy it” of ’n prentjie van ’n uitgelate koei wat pleit: “Have courage, be kind, go vegan”.
Tortoiseback se hoofhuis, wat meer as vyftig jaar leeg gestaan het voordat Brett sy intrek geneem het, lê net ’n hanetree weg van die R407, sowat 15 km van Klaarstroom en 40 km van Prins Albert. Dis op dié huis se uitsigryke voorstoep waar die lang, maer eienaar aan ’t lag gaan: “Ek besef maar alte goed my benerige – en eens baie siek – lyf is nie juis die beste advertensie vir veganisme nie, maar dit is wie en wat ek is, dis wat ek doen, dis hoe ek leef.”
Hier in sy middel-vyftigs, nadat hy oor die jare verskeie vleiseters en -boere, jagters, slagysterstellers en veganvresende dorpenaars verkeerd opgevryf