Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die Staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood
Die Staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood
Die Staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood
Ebook341 pages4 hours

Die Staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Oscar klop aan die deur en Reeva kom maak vir hom oop. Die man wat oor die drumpel trap, wat vir die laaste keer by hierdie huis instap, is Oscar Pistorius, skatryk, alomgeliefde wêreldberoemde Olimpiese held. Die man wat oor minder as 24 uur by dieselfde deur sal uit steier, sal 'n ánder Oscar wees. Berug, bebloed, bedroef, 'n flentersgebreekte spieël van homself."Dis die verhoor van die jaar, die storie van die dekade. Dis 'n liefdesverhaal wat 'n hofdrama geword het, 'n sprokie wat in bloed geëindig het.Die Oscar Pistorius-saak is al van hoek tot kant bestudeer en ontleed, in berigte en debatte bespreek. Maar nog nooit is dit van die begin tot die end as 'n spanningsverhaal vertel nie. En dít is wat Marida Fitzpatrick in Die Staat vs. Oscar doen. Sy weef die skrikwekkende gebeure van daardie nag en die mees dramatiese dele van die verhoor op só 'n manier ineen dat die boek soos 'n misdaadriller lees. Tussendeur dié boeiende vertelling is uittreksels uit roerende onderhoude met van die betrokkenes se naastes. Die boek bevat ook 'n interessante ontrafeling van die tegniese aspekte van die verhoor: Wat het die ballistiek, die getuienis oor die gille en Oscar se twee verwere uiteindelik vir hom beteken? Dit word alles geïllustreer met foto's wat op die toneel geneem is en grafiese voorstellings. Die Staat vs. Oscar is 'n fassinerende storie wat nie net al die legkaartstukke van die Oscar-raaisel in plek laat val nie, maar deurentyd aangryp en meesleur.
LanguageEnglish
PublisherJonathan Ball
Release dateOct 1, 2014
ISBN9781868426423
Die Staat vs. Oscar: 9 uur, 4 skote, 1 raaiseldood
Author

Marida Fitzpatrick

Marida Fitzpatrick het in Secunda grootgeword. Sy het haar honneursgraad in joernalistiek (cum laude) aan die Universiteit van Johannesburg verwerf en was al artikelskrywer vir Nuusweek en nuusverslaggewer vir Beeld. Tans is sy ’n diepteverslaggewer by Beeld waar sy persoonlikheidsprofiele en artikels skryf. Sy woon in Johannesburg. Marida was finalis in die Liefde is vir ewig-kompetisie met haar boek, Eksklusief uit Eden. Iemand vir ’n scoop? Is haar tweede roman.

Related to Die Staat vs. Oscar

Related ebooks

Murder For You

View More

Related articles

Reviews for Die Staat vs. Oscar

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die Staat vs. Oscar - Marida Fitzpatrick

    Voorwoord

    Oscar Leonard Carl Pistorius lyk nie soos ’n tipiese misdadiger nie.

    ’n Tipiese Suid-Afrikaanse misdadiger dra nie geborgde Nike-klere, Oakley-sonbrille en Thierry Mugler-parfuum nie.

    Hy verskyn ook nie op die voorblaaie van internasionale tydskrifte en koerante nie en verander nie die reëls van wêreldatletiek sodat hy aan die Olimpiese Spele kan deelneem nie.

    Maar die strafregstelsel is die groot gelykmaker en uiteindelik kon geen luukse handelsmerk, stringe goue medaljes of geld Oscar red nie.

    Die hofsaak van die dekade het nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd mense se harte en opinies geskud en ons tot besinning gedwing.

    Nie Oscar nie, was ’n gewilde refrein nadat Beeld op Valentynsdag 2013 die storie van Reeva Steenkamp se dood op Twitter gebreek het.

    Oscar, die goue seun van Suid-Afrikaanse sport. Oscar, die vlekkelose held wat sy fisieke gestremdheid oorkom het om aan gewone atletiek deel te neem.

    Oscar, met sy stywe hempies, skamerige glimlag en aantreklike blondines aan sy sy op die blaaie van ponietydskrifte en vermaaklikheidsblogs.

    Vier skote deur ’n badkamerdeur.

    Nie Oscar nie.

    Die misdaadstatistiek van die Boschkop-polisiestasie in die ooste van Pretoria toon dat daar in 2013 agt moorde in die area wat die stasie dek, gepleeg is.

    In ’n land waar daar jaarliks sowat 16 000 mense vermoor word, is Boschkop een van die veiligste polisiewyke. G’n wonder nie – ’n groot deel van die gebied wat die stasie dek, is die luukse, beveiligde Silver Lakes met sy veiligheids­landgoedere, soos Silver Woods waar Oscar gewoon het.

    ’n Mens sou dink dit is veilig hier. Reeva het waarskynlik ook so gedink toe sy die aand van 13 Februarie 2013 met haar Mini Cooper vir oulaas die landgoed binnegery het.

    Oscar het genoeg geld gehad om vir sy privaat beveiliging te betaal. Hoe dikwels het ons nie in die verhoor gehoor van sy vrees om in sy huis aangeval te word nie?

    Hoe ironies is dit dan nie dat hy uiteindelik daardie aanvaller was nie?

    Ek onthou die beeld op die misdaadtoneel nog goed: Oscar agterin ’n Volkswagen Polo, met ’n polisieman agter die stuur.

    Hy het misplaas gelyk in so ’n nederige motor – ’n man wat gewoond geraak het aan die glans van status en roem.

    En eers ná sy val het die stories begin oor Oscar wat na bewering geleef het asof hy bó die wet verhewe was. Stories oor roekelose partytjies, ’n skietery en wilde vriende.

    Dis stories wat ons, sy aanhangers, nie wou hoor nie.

    Ons het gekies om Oscar op ’n troon te plaas, hom as die goue seun te beskou: vlekkeloos, onfeilbaar, ’n superster.

    Dit is wat ons doen: ons skep helde sonder foute en is dan verbaas as hulle tot ’n val kom.

    Natuurlik is niks ter wêreld, soos die reg, net wit of swart nie. Oscar is nie net goed of sleg nie. Niemand is nie.

    Tog het die mense om hom, sy aanhangers, die publiek en die media inkluis, gekies om sy roekelose kant te ignoreer. Wie weet of dinge anders sou verloop het as hy vroeër hulp gekry het?

    Die Oscar Pistorius-moordverhoor was ’n storie van helde en skurke. Soms was hulle dieselfde persoon. Dag na dag het die saak ons aan die praat gehou.

    Thokozile Masipa, Gerrie Nel en Barry Roux het huishoudelike name geword.

    Dis ’n saak wat ons emosioneel en intellektueel uitgedaag het. Dit was nie een enkele dag maklik om ’n foto vir die voorblad te kies of ’n hoofopskrif te skryf nie.

    Die beeldsending daarvan het ook ’n nuwe era vir die Suid-Afrikaanse media en regstelsel ingelui.

    Dis ’n storie wat ons boei en waaroor ons nog jare lank gaan praat.

    Marida Fitzpatrick se dekking van die saak vir Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport was van hoogstaande gehalte. Nie net is sy ’n briljante skrywer nie, maar Marida is ook ’n meesterlike waarnemer van besonderhede – die litmustoets vir ’n goeie hofstorie.

    Van al die kopie wat daar oor die saak geskryf is, het ek dit die meeste geniet om Marida s’n te lees. Sy neem die leser tot in die hart van die drama.

    Marida móés haar insig en ervaring met ons in ’n boek deel. As daar dus een boek is wat jy oor die Oscar Pistorius-saak lees, maak seker dat dit dié een is.

    Adriaan Basson

    Redakteur: Beeld

    Johannesburg

    Full Image No. 1Full Image No. 2

    Nege uur

    Reeva Steenkamp het nege uur en 23 minute oor om te leef.

    Dis 13 Februarie 2013, net voor sesuur op ’n snikhete Woensdagaand en voordat dit weer dag word, sal Oscar Pistorius haar met vier skote uit sy pistool, ’n 9 mm-Parabellum, doodskiet. "Bang … bang, bang, bang," sal bure later die hol klanke van die doodskote in die moordverhoor beskryf.

    Hiervan weet Reeva niks nie. Sy is 29 jaar oud, gesond, beeldskoon en in haar grys Mini Cooper op pad na Oscar se huis om vir hulle aandete te gaan maak.

    Die somerson brand wit en fel op Pretoria neer en haar lang, blondgebleikte hare is met ’n rekkie in ’n dik poniestert agter haar kop vasgemaak.

    In haar swart, moulose toppie met veterbandjies is haar arms lank en skraal. Haar vel span blink en glad oor haar hoë wangbene, haar sterk kakebeen is teen haar slanke nek afgeëts.

    Hier in haar blinkgrys Mini, die son soos ’n kollig op haar, lyk Reeva soos alles wat almal nog altyd wou wees. Gelukkig, jonk, pragtig, sorgeloos.

    Maar dis net hoe dit op die oog af lyk. Agter dit alles is daar baie dinge wat haar jaag. Haar geldsake, haar ouers, haar loopbaan, haar gewig, haar verhouding met Oscar.

    Hulle het net nou die dag begin uitgaan en klaar is dinge so ernstig, so moeilik, so stormagtig. Dit maak haar bang.

    * * *

    Staan in die hof, rise in court! bulder die hofordonnans. Almal kom met ’n geruis regop toe regter Thokozile Masipa en haar twee assessore om presies 11:23 op 3 Maart 2014 by hof GD in die hooggeregshof in Pretoria instap.

    Die verrigtinge begin ’n uur en ’n half laat omdat hulle inderhaas ’n ander tolk moes kry. Die tolk wat aan die saak toegewys is, se senuwees het ingegee. Die feit dat die hele wêreld vir haar kyk, was net te veel.

    Dis stil toe die regter en haar assessore instap, maar die nie-amptelike geluide van ’n hof klink op – ’n swaar houtdeur wat oopswaai en toekraak, die voetval van hoëhakskoene op houtvloere, die geritsel van klere teen lywe, iemand wat hoes.

    Die regter is klein, maar haar rooi toga maak haar groot, formidabel. Moeisaam klim sy die twee trappe uit na die hoogste vlak, die regterstoel heel voor, reg in die middel, van waar sy die oordeel sal vel.

    Twee assessore, een vrou en een man, gaan staan weerskante van haar, net ’n trappie laer. Janette Henzen-Du Toit, regs van haar, en Themba Mazibuko, links, staan Masipa op haar versoek in die verhoor by.

    Spanning vibreer in die lug. Die openbare galery beef van ’n soort ingehoue, makabere opwinding.

    Vir langer as ’n jaar wag die wêreld hiervoor. En hier is dit nou, in al die grootsheid en belangrikheid van ’n hooggeregshof: Oscar Pistorius se moordverhoor.

    Masipa en haar assessore buig soos spelers in ’n verhoogstuk vir die gehoor en almal in die hof buig terug, meestal onbeholpe en selfbewus.

    In die enigste leë bank in die stampvol hof, op die eensaamste plek, staan Oscar Pistorius aan die linkerkant. Hy lyk bleek, verlore. Sy kake klem op mekaar, die spiere bult in sy wang. Swart snyerspak, dun swart das, kraakwit hemp.

    Sy atletiese lyf, die skouers effens vooroor gebuig, die regterhand plegtig oor die linker gevou, verraai ’n versigtige mengsel van selfvertroue en broosheid, asof hy voor die tyd mooi gaan dink het hoe iemand sal lyk wat onwrikbaar in sy eie onskuld glo, ondanks sy diep, diep spyt.

    Vanoggend het hy met ’n strak gesig in die grou reënweer in Madibastraat aangekom, omring deur sy breëbors-neefs en – swaers om hom teen die media te beskerm. Soos ’n wolk drom die tientalle fotograwe, kameramanne en joernaliste oral om hom saam, tree vir tree. Open! Make way! donder adjudant-offisier Hein Taljaard dan, wat voor Oscar uitloop soos ’n Moses wat die mediasee vir hom oopkloof.

    Hein sal later self die media-aandag te veel geniet, een te veel personderhoud toestaan en na êrens, ver van Suid-Afrika se grootste moordverhoor, verplaas word.

    Oscar bly staan toe almal gaan sit. Sy hare is so kort geskeer dat sy kopvel plek-plek deurskyn. Teen die regterkant van sy agterkop is die twee kenmerkende wit kolle waar sy hare al jare terug hul pigment verloor het. Dit laat hom nog broser lyk, nog jonger as sy 27 jaar.

    Verskeie platskerm-TV’s is in die hof opgerig waarop hulle bewysstukke en grufoto’s sal vertoon. Intussen is die skerms diepblou met die geel en bruin landswapen daarop. Onder die wapen verskyn die saaknommer met die naam van die polisiestasie en die jaar van daardie noodlottige nag: Boschkop CC113/2013.

    Die hof is in twee verdeel. Daar is die linkerkant, Oscar se kant, en die regterkant, die staat s’n. Dis duidelik aan watter kant die geld lê. Links sit die welvaart dik en blink, regs verdof dit tot middelklas staatsdiens.

    In die voorste ry van die openbare galery sit al die familie. Links is die stil en bedroefde Pistoriusse, gepoeier en gepêrel in swart, vlootblou en grys. Regs sit Reeva se ma in ’n wit bloes en swart baadjie, haar hare wit gebleik, reguit gestryk. Oscar het tien familielede in die hof, Reeva het drie: haar ma, haar niggie en haar halfsuster.

    Voor Oscar, self spoggerig in sy donker snyerspak en Oakley-bril, sit sy malduur regspan. Hulle kos hom tussen R80 000 en R100 000 per dag.

    Regs van hulle sit die staat – aanklaers en polisiemanne in staatsdienshemde en – baadjies.

    Later in die verhoor sal hier ’n lewensgrootte replika van die badkamer opgerig word waar Oscar Reeva geskiet het. Dit sal die werklike deur wees waardeur die koeëls getrek het en ’n nabootsing van die deurkosyn. Die toilethokkie agter die deur sal presies dieselfde afmetings hê as die een waar Reeva gewond is en neergeval het.

    June kyk Oscar stip aan. Haar heldergroen oë, ’n eggo van Reeva s’n, is ys, haar lippe verdwyndun.

    Sy het vroeg vanoggend ook in die gietende reën by die hof aangekom. Advokaat Dup de Bruyn, haar regsverteenwoordiger, het agter haar gestap, vir haar ’n geruite sambreel gedra en die reën en die media van haar weggehou. Is jy oukei, June? het hy gevra. Sy het deur die mediaskrum voortgebeur en sonder om om te kyk, geantwoord: Yeah.

    Sy het vroeër aan die Amerikaanse TV-reeks Investigation Discovery gesê: Ek dink hy moet my sien. Die ma, die persoon wat die lewe aan haar geskenk het. Dat hy my dogter van my weggeneem het. Dis hoekom ek hom in die oë wil kyk en hy in myne moet kyk. Hy moet sien ek is daar. Vir geregtigheid vir Reeva. Maak nie saak wat gebeur het nie. Sy het vir ’n oomblik stilgebly en toe bygevoeg: En die waarheid, natuurlik. Ons weet nie of ons ooit die waarheid sal hoor nie, maar ek hoop ons sal.

    Kort nadat almal in die hof gaan sit het, vlieg die hoofaanklaer in sy swart toga op. Advokaat Gerrie Nel is ’n middeljarige man met blonde hare, kort teen sy kop geskeer. Op sy voorkop, bo die horisontale groewe van dekades se wenkbroue lig, maak sy haarlyn ’n sagte V.

    Nel staan in die aanklaerbank aan die regterkant van die hof. Om hom sit sy span – ’n mede-aanklaer en talle polisiemanne.

    Met ’n swaar Afrikaanse aksent sê Nel in Engels: Soos dit die hof behaag, u edele en geleerde assessore, ek tree op namens die staat. Sy lettergrepe is stompgeknip, sy woorde staccato.

    Die Bulhond, noem hulle hom. As sy kake om ’n skuldige sluit, los hy nie. Vra maar vir Jackie Selebi, Suid-Afrika se berugte en korrupte oud-polisiehoof wat ondanks elke regstoertjie in die boek nie aan Nel se knelgreep kon ontsnap nie.

    Aan die anderkant van die hof, die linkerkant, staan advokaat Barry Roux SC op, ook middeljarig met ’n gryskop wat aan die voorkant bles raak. SC staan vir senior counsel en dit beteken hy is baie goed en baie duur.

    U edele, sê Roux, ook met ’n Afrikaanse aksent, ek tree namens die beskuldigde op.

    Om hom sit sý span – nog ’n advokaat, ’n prokureur en twee kandidaatprokureurs.

    Dis een van die opspraakwekkendste moordverhore nóg en twee van die hoofspelers, Nel en Roux, is albei Afrikaanse outjies van die ou Transvaalse platteland.

    Nel is die seun van ’n polisieman en het op ’n klein boerderygemeenskap genaamd Zebediela buite die ou Potgietersrus in die destydse Noord-Transvaal grootgeword. Roux het weer op ’n klein dorpie genaamd Rooigrond in die ou Wes-Transvaal grootgeword.

    Vandag is hulle albei gerekende regsmanne in hul 50’s en die wêreld se oë is op hulle – die een Oscar se grootste nagmerrie, die ander sy enigste hoop.

    Nel (52) is bekend as ’n vreeslose vervolger, een van die beste aanklaers in die land en Roux (58) as een van die beste en duurste strafregadvokate.

    Masipa sweer haar twee assessore in en dan staan Nel weer op, lees die vier aanklagte teen Oscar hardop:

    Die eerste aanklag teen die beskuldigde is moord, sê Nel. Hy praat vinnig en sy stemtoon klink amper te terloops vir die gewig van die inhoud wat dit dra, asof hy bloot die formaliteite uit die pad wil kry. Die beskuldigde het wederregtelik en opsetlik ’n persoon doodgemaak, naamlik Reeva Steenkamp, sê hy, blaai ’n bladsy van die dokument om waaruit hy lees, en voeg dan stadiger na ’n oomblik se stilte by: ’n 29-jarige vrou.

    Verstaan jy die aanklag, meneer Pistorius? vra regter Masipa.

    Ja … ja, u edele, antwoord Oscar bedees, steeds met sy hande voor hom gevou, die regterhand oor die linker.

    Hoe pleit jy? vra sy.

    Terwyl hy effens vorentoe leun, na die mikrofoon toe, antwoord hy sonder huiwering in sy gepoleerde Pretoria Boys High Engels: Onskuldig, u edele.

    * * *

    Reeva onthou die dag toe hulle ontmoet het so goed. Dit was op 4 November 2012, drie maande gelede, toe sy hom die eerste keer gesien het, die eerste keer met hom gepraat het. Die nuwe somer was jonk en uitbundig in die lug, ook op Kyalami.

    Dit was ’n geleentheid van die Daytona-groep, motorhandelaars wat spesialiseer in luukse motors soos Rolls Royce en Aston Martin. Daytona se uitvoerende hoof, Justin Divaris, was vriende met Reeva en Oscar en het elkeen van hulle afsonderlik na die dag genooi. Dit was een van daardie glansryke geleenthede waar modelle en sportsterre graag gesien word, ’n dag vol mooi mense en duur speelgoed. Die beursies was so vet as wat die modelle maer was.

    Dis Justin wat die twee aan mekaar voorgestel het. Oscar, dis my vriendin Reeva. Reeva, ontmoet Oscar. Natuurlik het sy geweet wie die wêreldberoemde Paralimpiese kampioen is. Natuurlik het hy sjarmant vir die lieflike model geglimlag.

    Hulle het dadelik gekliek en lekker oor middagete gesels.

    Die middag het Oscar na Justin se huis gegaan om reg te maak vir die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings die aand. Daar het hy onthou hy het die organiseerders laat weet hy bring ’n metgesel saam, want hy en sy eksmeisie Samantha Taylor het tot nog kort tevore uitgegaan.

    Toe hy hardop wonder wat om te doen, het Justin dadelik gesê: Hoekom vra jy nie vir Reeva saam nie?

    Ek dink nie sy sal belangstel nie, het Oscar gesê. Ek meen, ons het regtig ’n lekker dag gehad, maar ek dink nie ’n meisie sal, jy weet, so sorgvry wees en net saamkom nie.

    Nee man, het Justin gesê. Bel haar! Vra haar net!

    Hy doen dit toe, bel haar en vra of sy saam met hom sal gaan.

    Ja, het sy tot sy verbasing geantwoord, sy sal graag gaan.

    En dít was die oomblik toe Oscar en Reeva se lewenspaaie vir altyd verander het.

    * * *

    Doef-doef-doef pomp die musiek en die spiere hier in Smith’s Boxing Gym in Fourways, Johannesburg. Ek en Kevin Lerena, ’n beroepsbokser en voormalige vriend van Oscar en Reeva, sit by ’n tafeltjie voor die ingang.

    Dis ’n warm middag in Februarie 2014, enkele weke voor Oscar se moordverhoor begin. Kevin het ingestem om oor sy ou vriend en oor Reeva te gesels.

    Presies hier, by hierdie selfde tafel, het Oscar ook dikwels gesit wanneer hy by Kevin kom kuier het.

    Hulle sou iets drink, oor mansdinge gesels, boy stuff. Oefentegnieke, hardlooptegnieke, diëte. Ek het opgekyk na hom. Hy’s ’n ikoon in sport, hy’s ’n inspirasie.

    Kevin is maar 21. Sy lyf lyk te groot vir sy ouderdom, asof geen mens soveel spiermassa in 21 jaar kon opbou nie. Maar sy gesig verklap sy jeug wanneer hy sy koelkat-sonbril afhaal en groenbruin seunsoë na jou terugkyk.

    Nou en dan haal hy sy rooi San Francisco-pet af, vryf skamerig oor sy kort swart hare, sit die pet dan windmakerig terug, teen presies die regte hoek. Pure seunskind.

    Hier by die boks-gim by ’n winkelsentrum kry ’n mens ’n kykie in Oscar en Reeva se sosiale lewe vóór 14 Februarie 2013.

    Dis fris knape, mooi meisies, harde musiek, vinnige motors. En by dit alles ’n goeie skoot godsdiens. Nes Oscar het Kevin ’n Bybelvers op sy lyf laat tatoeëer. Psalm 27 vers 1 pryk op sy regterboarm en In God we trust loop teen sy ruggraat af.

    Met hul gemeenskaplike liefde vir die Bybel en sport het Oscar en Kevin mekaar êrens in die tweede helfte van 2012 deur gemeenskaplike vriende ontmoet.

    Ons het net gekliek. Hy is ’n baie nederige ou.

    Maar Kevin het Reeva veel langer as vir Oscar geken. Ons ouers het mekaar geken, want my pa het ook renperde afgerig.

    Hy en Reeva was sowat drie jaar goeie vriende, reken hy, drie jaar van werklike goeie tye saam.

    In die tweede helfte van 2012 het hy van tyd tot tyd met haar beste vriendin, Gina Myers, uitgegaan, omtrent ses maande. Ons het almal saam ge-gym by Old Eds. Om eerlik te wees met jou, het ek hierdie Reeva-meisie in die gym gesien en gedink ek moet haar nommer kry, sy’s so mooi. Toe gaan ons almal uit vir middagete en toe ontmoet ek Gina. Ek het vir haar gesê ek hou van haar oë en ek het besluit om haar te kies.

    Toe bly hy en Reeva altyd net in die friend zone, sê hy. Ons het ’n goeie verhouding gehad, goed genoeg om saam te gym. Sy was ’n baie warm mens, baie maklik om mee te praat.

    Kevin is ook bevriend met Justin, want Daytona borg hom. Hy het dus ook die Daytona-dag by Kyalami bygewoon waar Oscar en Reeva ontmoet het.

    Ek en Reeva het saam gegaan. Sy het my kom oplaai, vertel hy. Toe ons terugry, het sy vir my gesê sy gaan die aand saam met Oscar na die sporttoekennings toe. Sy het pas haar verhouding met (Francois) Hougaard (die Springbok-rugbyspeler) beëindig en sy wou by my weet of ek dink dis oukei dat sy so gou al saam met Oscar gesien word. Ek het gesê jy’s enkellopend en as julle as vriende gaan, hoekom nie? Oscar is ’n gawe ou.

    Twee maande later is Reeva saam met Oscar Kaap toe vir vakansie. Kevin het daar by hulle gaan kuier. Hulle was baie gelukkig, baie verlief, ’n mens kon dit sien. Hy was ’n gawe ou en sy het net goeie goed oor hom gesê, nooit negatiewe dinge nie.

    Hy en Oscar het nog nie gepraat sedert daardie noodlottige Valentynsdag verlede jaar nie. Hoegenaamd geen kontak nie. Hoekom nie? Ek weet nie, ons het net nie kontak nie. Ek voel hy wil nie met my praat nie, ek wil nie met hom praat nie … Ek het niks teen Oscar nie. Ek dink daar’s baie mense met wie hy sedertdien nie praat nie. Hy praat seker met dié met wie hy nou gemaklik voel. Ons is nie meer vriende nie, ons hang nie meer saam uit nie.

    Oscar het hom geleer hoe om te baklei vir wat hy wil hê. Hy het altyd gesê ek moet hard werk, hárd werk.

    Toe ons foto’s van Kevin neem, steek hy sy wysvinger in die lug vir die kamera. Wat beteken dit? vra ek. Nommer een, sê hy en hou sy oë glimlaggend op die lens. Al wat ons doen, is wen.

    * * *

    Die aand van die Suid-Afrikaanse Sporttoekennings, op 4 November 2012, het Oscar ’n swart snyerspak met ’n wit hemp en ’n blinkswart das aangehad; Reeva ’n kort, ligpienk rokkie met fraiings. Ses-en-veertig jaar tevore, in 1966, het die sangeres Nancy Sinatra feitlik net so ’n rok gedra, ook pienk, ook lae met fraiings, toe sy gesing het:

    Bang bang, he shot me down

    Bang bang, I hit the ground

    Bang bang, that awful sound

    Bang bang, my baby shot me down.

    Hulle het verlief gelyk, Oscar en Reeva, al het hulle daardie dag eers ontmoet. Hy het vir haar gekyk asof hy ’n prys gewen het, met ’n mengsel van blydskap en verbasing. Op haar gesig was ’n verleë ingenomenheid, asof sy met iets wonderliks betrap is.

    Hulle het goed gelyk langs mekaar op die rooi tapyt, die model en die sportheld. Op haar roomkleurige platformskoene was haar bene Barbie-pop-lank, haar hare in ’n welige poniestert gebind. Hy was regop en fier langs haar, sy stoppelbaard net donker genoeg om ’n popster-skadu oor sy kakebeen te gooi.

    Dit het mense laat praat, die feit dat Oscar met ’n nuwe, onbekende meisie by die glansgeleentheid opgedaag het.

    Tot kort voor die sporttoekennings het hy vir ’n jaar en ’n half met die jong Samantha Taylor, ook ’n blonde skoonheid en toe maar net 19, uitgegaan. Net weke voor die okkasie is ’n episode van die TV-program Top Billing uitgesaai met Oscar en Samantha wat hand-om-die-lyf vakansie hou op die Seychelle-eilande.

    Dit het Reeva gepla, die hele ding met Samantha, sy het gewéét die mense gaan praat. Toe hulle by die sporttoekennings aankom, net voordat hulle uit die motor geklim het, het sy nog vir Ocar gesê: Jy besef mense gaan hieroor praat, nè? Drie, vier weke gelede was jy nog in die Seychelle, op TV saam met Sam.

    Ek weet, het Oscar geantwoord. En weet jy, as jy nie meer wil kom nie, sal ek verstaan.

    Nee, nee glad nie, het Reeva gesê. Ons is vriende, ons het vandag eers ontmoet. Kom ons geniet net die aand saam.

    En hulle hét dit geniet. Daar was chemie, ’n onmiddellike konneksie, al was sy drie jaar ouer as hy.

    Ná die toekennings het Oscar en Reeva daar bly sit en net gesels. Gepraat en gelag en gepraat tot tweeuur, drieuur die oggend. Oscar het by Justin se huis gaan slaap, hy wou nie al die pad terugry Pretoria toe nie.

    Toe hy daar kom, was Justin nog wakker.

    Hoe was dit? het Justin gevra.

    Dit was ongelooflik! het Oscar geantwoord. Ons het soveel pret gehad. Reeva was fantasties.

    Die volgende dag het hy haar gebel en vir koffie genooi. Vir ses dae daarna was hulle onafskeidbaar, mekaar dag en nag gesien. Maar toe moes sy vir die TV-realiteitsreeks Tropika Island of Treasure oorsee gaan. Die afstand het dinge laat afkoel en toe sy terugkom, het hulle minder tyd in mekaar se geselskap deurgebring.

    Die holderstebolder romanse van daardie eerste week het ’n rustiger en nugterder pas aangeneem van twee mense wat mekaar eers leer ken, wat eers die kat uit die boom kyk.

    En dan was daar die hele aaklige affêre met Samantha. Reeva was reg. Mense hét gepraat.

    Die dag ná die sporttoekennings het joernaliste Samantha gebel. Samantha was woedend en gekrenk. Sy het gesê Oscar het haar met Reeva verneuk, dat sy en hy op 4 November nog saam was. Oscar het weer gesê Samantha het hóm verneuk toe hy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1