Dis snaaks hoe mens soms uitgevang word, dink Ami. Hoe jy soms redeneer jy kan mos sien wat aangaan, want jy is nie stupid nie. Dis laatmiddag, die son skyn, en al jou sintuie is oorgehaal en wakker. Maar dan loop foeter jy kop eerste in ’n ding in, en jy het geen idee hoe jy daar beland het nie, amper nes hierdie storie met die moord op Roger Brooks.
Sy staan doodstil tussen ’n handvol ruie bome en bosse, die skaduwee wat haar uit die bloedige son hierheen gelok het meteens nie meer so verwelkomend nie.
Sy laat sak haar kop millimeter vir millimeter. Kyk na die spoor langs haar linkerstewel.
Groter as haar vuis. As Geo se vuis.
Moerse katklou. Soos in leeu.
Soos in die