Wanneer jy deur die hekke van Hartenberg, geleë tussen Stellenbosch se Bottelary-heuwels, ry, herinner ’n kennisgewing jou dat jy nou op die turf is van herlewingslandboubaanbrekers.
“Ons plant al jare lank dekgewasmengsels, soos Barsaia-swarthawer, Moby-voergars, Barpower-voerrog en Japannese radyse, in ’n poging om die grondstruktuur te verbeter, maar die idee oor grondgesondheid het eers werklik posgevat toe ons beeste in ons stelsel ingebring het,” vertel Wilhelm Joubert, wingerdboukundige, wat die afgelope drie jaar beheerde hoëdigtheidbeweiding in die wingerd toepas. Hulle het ’n Ankole-stoetery op die plaas, asook Nguni- en Dexter-kuddes.
“Een van die groot redes waarom ons nie vroeër met beeste in die wingerd begin het nie, was ’n vrees vir verdigting. Tweedens wou ons dekgewasse gehad het vir vogbewaring en onkruidonderdrukking. Ons het dus gedink dit gaan die doel ondermyn as die dekgewasse afgevreet word.”
’n Paar jaar gelede het hy beeste gekoop om op die oop lande en vleilande te loop.
Toe die beeste te veel raak vir die beskikbare grond, het sy navorsing hom na mense soos Alan Savory, Gabe Brown, Greg Judy en Joel Salatin gelei. Daar het hy wenke gekry oor hoe om vee suksesvol in die wingerd te integreer en veral die probleme rondom verdigting en dekgewasfunksies aan te pak.
Dekgewasse en verdigting
Om verdigting te voorkom, het Wilhelm besluit om die beeste daagliks te skuif. Saam met die grondkundige Bennie Diedericks van Resalt Agriculture Systems and Strategies het hulle bewys dat verdigting minimaal is as daar genoeg plantmateriaal op die grond is – dit is amper soos ’n matras waarop die beeste loop.
“Jy soek wel ’n bietjie van ’n trap-aksie. Ons navorsing het ook gewys die trekeffek, wanneer die bees die plant vreet, deurlug die grond en die speeksel, mis en urine het alles ’n gunstige bydrae.”
Wilhelm het ook besef dit is nie nodig om die dekgewasse