Die eerste mens wat ons op Koringberg ontmoet het, was Femmy van den Hoek, ’n vrolike, lewenslustige tannie met ’n sterk Nederlandse aksent, ’ngroot glimlag en blou oë wat iemand op die dorp later “twee groot Delft-borde” genoem het.
Nadat die eiendom wat vandag die Wit Huis op Koringberg is, ons harte verower het, het ons in Hoofstraat teruggery en die groot opslaanbord op die sypaadjie voor haar huis gewaar waarop ’n vrolike, koeëlronde bakkersmannetjie jou innooi vir koek en koffie by die Hoek van Holland. Dit was Augustus 2005.
Daar verskyn Femmy in die deur, die ene glimlag en klaar aan die klets. Ons sit by ’n tuintafeltjie aan, en kort voor lank is ons land en sand aan die gesels. Ons hoor hoe sy en haar man, Jan, as twee avontuurlustige jonggetroudes met twee kinders uit Nederland na Suid-Afrika geëmigreer het nadat hulle ’n advertensie in De Telegraaf gesien het wat mense nooi om hulle te vestig in ’n land met “baie sonskyn en lae belastings”.
In 1958 kom hulle op die skip die Randfontein in die Tafelbaaise hawe aan.