Soos Goue Lokkies is ek vol fiemies oor my pap. Lekkerder as my oorlede ma se slappap, met ekstra botter en suiker as ek olik was? Komaan! Georgina, ons huishulp van weleer, se poetoepap het dit selfs oortref. Dié heel onder in die pot wat so effens aangebrand was, het ek, ongeskik, sommerso uit die pot geëet. Saam met geil, geel botter en taai, soet stroop.
Ook hiermee het ek grootgeword: Iwisa-mieliemeel – met die groot, groen No. 1 op die pak – bestaan reeds sedert 1956. Iwisa, terloops, beteken knopkierie in Zoeloe. Nou wel ’n vreemde benaming vir mieliemeel, maar Madiba se reënboognasie is mos maar ’n kruidjie-roer-my-nie-spulletjie. Die einste knopkierie pryk dan ook saam met ’n spies op ons landswapen. Ons samelewing was maar nog altyd ’n effe gefragmenteerd.
Dalk sou ’n potjie mieliepap op die landswapen ’n beter idee gewees het. Mieliepap is die een gereg wat ons see van kulture bymekaarbring. Styselkos, trooskos wat die goedvoelhormone laat bruis en jou veglus laat verdamp. Veelsydig, ook. Eet dit met neute, droëvrugte en heuning vir ontbyt en vanaand met ’n smoortjie by die braaivleis.
“Ons het waarskynlik die ryke verskeidenheid van pap by ons swart landgenote geleer, stywepap, slappap, krummelpap, suurpap . . .” vertel kosskrywer Errieda du Toit. “Tussen wit en swart Suid-Afrikaners was daar sekerlik ’n wedersydse oordra van papmaaktradisies en -metodes.