Sy vleg haastig tussen die ander passasiers met hulle oorlaaide trollies deur, haar vaartbelynde wieletjiestas skommelend op haar hakke. Op haar ouderdom het sy lankal geleer om ligter as die res te reis. Gretig om so gou moontlik by die oopskuif-glasdeur in die binnelandse aankomssaal uit te kom, deur die wagtende skare te beweeg, buite te wees. Die son op haar bleek vel te voel.
Darem nie meer so ongesond bleek soos toe sy ’n week gelede in Johannesburg geland het nie.
Maar die son in die noorde van die land is nie dieselfde as die Kaapse son nie. Hier word die hitte deur die seelug versag. Die son brand flouer, of so voel dit, genadiger vir ’n “bejaarde” vrou se vel.
Selfs in haar wanneer sy na haarself verwys. Ondanks die geboortedatum in haar paspoort – en die bewyse soggens in haar badkamerspieël – weier sy om haarself as bejaard te beskou. Dalk sal sy gereed wees om dit te doen as sy eendag by tagtig verby is.