‘So dom soos grond.’ Wié op hierdie aarde het so ’n onnosele, minagtende gesegde bedink?
Van die dae wat ons modderkoekies gebak (en geëet) het tot die dag dat ons terugkeer na die grond (stof is jy …), is die mens se fisieke en psigiese welstand ten nouste verweef en vervleg met grond.
Ongelukkig het die mensdom, soos ons meer ‘gesofistikeerd’ geraak het, Moeder Natuur al hoe meer verwoes, so erg dat daar die laaste klompie jare ’n duidelike besef posgevat het dat ons voortbestaan in groot mate daarvan afhang of ons die grond kan laat herleef. Dit het gelei tot die wêreldwye tendens van Dirt-y Wellness, volgens ’n verslag van die Global Wellness-beraad (GWS) verlede jaar.
Grond. Daardie polsende ekosisteem van mikrobiome: Meer as 90 persent van alle organismes op die aarde leef in die grond, met dermiljoene bakteriese en swamspesies wat dit in ’n lewende bio-massa omskep.
Vir twee miljoen jaar van menslike evolusie het ons van die grond gelewe, soos ons gevorder het van kossnuffelaars tot boere. Toe word ons stedelinge, binnenshuise wesens, ’n spesie van huiskatte wat ons daaglikse interaksie met die buitelewe en rykdom aan bakterieë en swamme verloor het.
In navorsing word toenemend bevind dat die grond- en menslike mikrobioom van die vroegste tye reeds kompleks ineengestrengel was en dat die grondmikrobioom die bron is van wat die mens