PALAWA die kameelperd sit in die Babbelboomhuis. Sy het ’n papiertjie in haar hand. Sy hou die papier naby haar gesig en dan weer ver. Sy frons.
“Wat laat jou so vreeslik frons?” vra Bibi toe sy by die boomhuis instap. Paloeka die leeu is kort op haar hakke.
“Dis ’n briefie wat my ma vanoggend vir my gegee het, maar ek kan nie kop of stert uitmaak van wat hier staan nie,” sê Palawa.
“Gee, laat ek kyk, ek is seker ek kan help,” sê Paloeka en vat die briefie.