CORLI se hart hamer benoud in haar borskas. Haar handpalms is natgesweet. In die halfskemer klim sy bewerig met die mankolieke leertjie op na die solder.
Sy het hierdie dag van ontsnapping haarfyn beplan gedurende die afgelope ses maande. Nou het die dag aangebreek. Ná vier jaar van hel.
Buite in die straat agter die huis stap sy vreesbevange maar vasberade na die huurmotor wat reeds staan en wag. Sy loer oor haar skouer en lek oor haar droë lippe. Sy laai haar tas in die bagasiebak. Haar hele lewe in ’n enkele tas, dink sy weemoedig.
Toe die kar wegtrek, klem haar hande die paspoort en vliegkaartjie op haar skoot vas. Daar’s nie meer omdraaikans nie. Haar stem is skor toe sy praat. “Lughawe toe. Gou. Asseblief.”
Die bestuurder knik woordeloos. Hy kyk in sy truspieëltjie na die bleek jong vrou op die agtersitplek. Haar bruin oë kyk groot en bang