Op Michèle se kortmouhemp is ses voëltjies in volkleur geborduur: hoephoep, knysnaloerie, rooikeelbyvreter, kuifkopvisvanger, tarentaal en wat na ’n grootrooibandsuikerbekkie lyk. Wanneer ek ’n opmerking daaroor maak, kyk sy half verbaas na haar hemp – sy dra hierdie hemp duidelik só gereeld dat dit niks vreemds is nie.
Ons sit op die groot stoep van hulle huis in die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle in Limpopo. Strykdeur ons gesprek hoor ’n mens voëls in die agtergrond. Op die muur agter hulle is ’n plakkaat waarop die voëls wat al in Kokanje opgeteken is, uitgebeeld word. Twee ander plakkate beeld die aftreeoord se skoenlapperspesies en grassoorte uit.
Om hulleself besig te hou, speel Warwick en Michèle, wat al 29 jaar getroud is, wat hulle noem veranda birding. “Die reël is dat jy ten minste een voet op die veranda moet hê wanneer jy die voël sien of hoor, anders tel dit nie,” verduidelik Michèle.
“Soms moet jy hardloop!” voeg Warwick by. “Want as jy iewers in die tuin is en ’n aasvoël kom oorgevlieg, dan moet jy terughol stoep toe en stééds van daar af die aasvoël kan sien, anders mag jy dit nie op die lysie afmerk nie!”
Hulle giggel – dis duidelik iets wat gereeld gebeur. Die Tarbotons speel al sedert die jare wat hulle op die plaas Sericea langs die Nylsvley-natuurreservaat, suidwes van Mookgophong, gewoon het. Nylsvley het ’n groot rol in die Tarbotons se lewens gespeel, op professionele en persoonlike vlak. Warwick en Michèle het al twee in Johannesburg grootgeword. Ná skool het Warwick studeer en sewe jaar lank as ’n geoloog gewerk, maar toe verstrengel geraak aan die bestuurskant. Tot die dag dat hy besluit “life’s too short”, en