“HY GAAN dit nie maak nie. Bel palliatiewe sorg.”
Die instruksie is in ’n neutrale stemtoon, asof hy ons vra om ’n X-straal van iemand se bors te bespreek of ’n dieetkundige mening te kry. Ek asem skerp uit. Ek is die dokter wat langer as vier weke die seun in die bed voor ons versorg het, en ek is raadop.
Jason is ’n sewejarige seun met ’n metaboliese toestand wat sy brein en sentrale senustelsel stadig laat agteruitgaan. Daar is variasies van die siekte, party meer behandelbaar as ander.
Niemand weet wat Jason se onderliggende probleem is of watter siekte hy het nie. Hy is op “volle ingryping” in die pediatriese waakeenheid gehou terwyl ons daaraan gewerk het om ’n behoorlike diagnose te maak. Dit het beteken alles wat nodig was om hom lewend te hou, maak nie saak hoe indringend of pynlik nie, was ’n opsie, en geen moeite is ontsien om hom te probeer red nie.
Deur dit alles het sy ma, Agnes, stil langs Jason se bed gesit, en af en toe haar hand teer op sy voorkop gesit.
Ons het gehoop ons sou uitvind hy het die een of ander toestand wat ons kan genees. Mettertyd het dit ál onwaarskynliker gelyk. Die toetsuitslae was dalk dubbelsinnig, maar boodskappe van Jason se liggaam kon nie duideliker gewees het nie: Sy lyf was besig om af te skakel.
Dokters en verpleërs het hom omring, wou die beste vir hom hê, maar ons het hom mistroostig gemaak. Ek het geweet daar moes ’n beter manier wees. Toe die konsultant dus voorstel ons kontak die palliatiewesorgspan, Paedspal, was ek verlig én verward. Palliatiewe sorg is die eenheid wat na pasiënte omsien wat sterwend is en nie genees kan word nie.
“Ek het nie geweet die hospitaal het ’n palliatiewesorgspan nie,” sê ek nadat die voorstel gemaak is.
“Dis nuut,” antwoord