Die drie vroue was eers halsstarrig met die groetery. Ignoreer ons en loop sommer in die middel van die pad af asof dit aan hulle behoort. Maar Mr Bright Shoes en ou Smiley was van die begin af vriendelik. Ook Howard met sy mank been en kierie.
Laasgenoemde het die groetery so ernstig opgeneem, dat hy homself as my persoonlike mossel-dealer aangestel het. Elke oggend ná laaggety wag hy en sy sak mossels ons nou duskant die strand vir 'n saamrygeleentheid in. Eers het hy gemeen ek moet elke keer sy oes koop, maar ná onderhandelinge verstaan hy 'n mens kan ook net soveel mossels eet. Nou is hy meestal tevrede om net saam te ry.
Maar Howard is allermins teruggetrokke. As hy die kans kry, herinner hy my tog dat die mossels op Port Edward twee keer duurder is. En ja, hy wuif ook nou vir die ander mense. Koning van die mossels.
Ek en my kleindogter ry van laas jaar af elke oggend die kronkelpad onderdeur die boog van melkhoutbome na haar skool langs die lugtoring.
Waar ons eers in die bergvallei in Mpumalanga gewoon het, het almal mekaar op die plaaspad gegroet.
‘Hoekom groet die mense ons nie hier nie?’ wou sy die eerste dag al weet.
‘Want hulle het ander gewoontes hier.’
‘Maar hoekom?’
‘Ek weet nie.’
‘Dan moet ons hulle leer.’
Sy het vasgesteek.
Ek het haar laat begaan met die aanvanklik hoflike, koninklike wuif aan