ORAL hier in die ruim tweeverdiepinghuis sien jy die tekens van ’n vol lewe. Teen die mure is foto’s van gesellige kuiers en drie vriendelike haasbekkies wat oopmond lag; ’n hoeksitkamerbank met deurmekaar kussings vertel die storie van lang kuiers; die pienk speelgoedtafeltjie skuins oorkant die kombuis wys die plek waar die woelige kleingoed raserig sit en huiswerk doen.
Hier in Garsfontein in Pretoria, ’n buurt waar die palms bo die huise uittroon, is die nuwe tuiste waar die aktrise Angelique Gerber haar tweede asem kom kry het.
Alles hier om jou wys die legkaartstukke van haar lewe.
Wat jy nié sien nie, is die pyn, woede, vernedering en frustrasie van die laaste paar jare – hoe haar ma, Lynette Stemmet, se kankerskok haar geruk het; hoe sy die glasskerwe van haar lewe met groot moeite bymekaar moes vee nadat haar tweede huwelik misluk het.
Dit wys nie die afbrekende kommentare van kuberboelies wat haar takel nie; ook nie die oorweldigende emosies, vrese en kommer wat sy elke dag as enkelma moet trotseer nie.
Maar dis hoe dit hoort, want dié is haar heelwordplek. Dis hier waar Angelique weer blom ná die seer.
‘DAAR IS NIE MEER HAAT EN BITTERHEID BINNE MY OOR WAT EK IN DIE LIEFDE VERLOOR HET NIE. EK IS NIE MEER KWAAD NIE’