Die V8 onder die enjinikap van Nico Stockhoff se Hilux brul só lekker, die mense in Fouriesburg kan hom sekerlik hoor.
Daar is niks in hierdie wêreld waarby die mens se liggaam en siel nie met ’n bietjie tyd kan aanpas nie, het ’n slim ou eens op ’n tyd geskryf. Maar dié slimkop het duidelik te veel tyd in sy studeerkamer deurgebring en nooit die Letelepas in Lesotho aangedurf nie.
Die pas is maar 6 km lank, en eintlik net ’n algemene rigting waarin mens, dier en voertuig deur die kloof beur en dan bergop mik. Toeka se dae het die pas blykbaar na die Letele-goudmyn toe geloop, en selfs op sy beste was dit maar rof. Sedertien het die myn ’n nuwe grondpad gebou, aan die ander kant van die berg, sodat ’n Corolla darem daar kan uitkom.
Danksy die nuwe mynpad het die bergpas gou vergete geraak en is dit nie meer in stand gehou nie. Reën het stukkies van die pad weggespoel wat eens op ’n tyd die ergste klipneste omseil het. Deesdae is daar plek-plek net ’n keuse tussen groot klippe, groot klippe of nóg groot klippe.
Die 4x4-voertuie kom by die sinkhuisie aan. Dié lendelam geboutjie huisves snags die plaaslike mense se skape en bokke, en is die amptelike beginpunt van die pas, net meer as 2 km bo seespieël.
Maar eers moet Henk de Klerk sy Frankenjero – ’n Mitsubishi Pajero-onderstel en -2,8 ℓ-enjin met ’n Willys Jeep-kajuit – ’n bietjie liefde gee. Henk is die eienaar van ’n Mitsubishi Pajero-werkswinkel, vandaar die Pajero se binnegoed.
Die Frankenjero is ’n interessante eksperiment. Die, maar die konsep het nooit in die groter 4x4-mark posgevat nie.