Otto Lessing kon sy oë nie glo toe hy kom kyk hoe vorder die koringstroper nie. Dit was nie dat daar fout was nie. Die stroper het fluks gedreun en daar is goed gevorder sedert sy vorige inspeksie. Maar die stroper se drywer het kettie in die hand langs die stroper gestap, op soek na ’n haas vir sy aandete.
In beheer van die stroper was ’n klein blondekoppie wat met groot konsentrasie tussen die speke van die John Deere 630 se stuurwiel deurgeloer het. Dit was sy seun, Lukas, toe vyf jaar oud.
Vandag is daardie seuntjie 26 jaar oud en die destydse stroper is vandag sy eie seuntjies, Otto (4) en Johannes (18 maande), se klimraam op die plaas Alto, ’n paar kilometer buite Marquard, vertel Lukas. Hy lag steeds lekker oor sy pa se verbaasde gesigsuitdrukking toe hy sien sy klong het geleer stroper bestuur. Lukas is ’n rustige, hartlike mens wat veel ouer en wyser voorkom as wat sy ouderdom verklap – en is steeds op sy gelukkigste as hy kan plant, ploeg of stroop.
Boerdery is in sy gene
Lukas se familiespore lê diep op sy grootworddorp. Die plaashuis waar hy nou bly, was sy grootoom Edwin Spence s’n. Sy oupa, ook Lukas, was ’n bankbestuurder wat met ’n nooi uit Marquard se distrik getrou het. Sy pa, Otto, het altyd vakansies plaas toe gekom om Edwin met die boerdery te kom help en Otto het later geleidelik beheer van die boerdery oorgeneem.
Lukas se ma, Lehana, het ook op ’n plaas in die distrik grootgeword.
“Vandat ek kan onthou, wou ek