SY SIT in ’n lang blou romp op ’n bankie in die hofgange en gesels beleefd met die mense wat om haar sit. Tussendeur groet sy verbygangers glimlaggend, haar gesig oop en vriendelik.
Kan dié ouma ’n moordenaar wees?
Wel, dis wat nou bepaal moet word – en dis hoekom sy vandag hier is.
Sarie de Villiers se donker hare val om haar gesig waar sy in die landdroshof op Worcester buite die hofsaal sit en wag. Dis yskoud buite; die sneeu lê dik op die omliggende berge, en Sarie trek haar donkerblou baadjie stywer om haar. Om haar nek is ’n ligte poeierblou serp gewikkel.
“Ek het haar mos geklap,” sê die man in ’n rooi jas en ’n rooi kopdoekie wat langs haar sit oor hoekom hy vandag in die hof is. Sarie luister bedagsaam na sy storie.
Sý is hier om ’n ander rede – sy word van moord aangekla.
Nie net moord nie – eintlik driedubbele moord.
Van drie kinders.
Haar drie agterkleinkinders.
Sarie se man, Ivan, het intussen op en af in die gang begin stap. By die hofrooster staan Ivan stil om te kyk wat daar aangaan. Sarie se naam is nie daarop nie.
HOEKOM WAS SARIE MET DIE KINDERS OP DIE PAS? BOONOP WAS DAAR VERSPERRINGS IN DIE PAD; HOEKOM HET