Wat kerslig onderskei van enige ander lig, is dat dit direk met ‘n mens se siel praat, het die Turkse dramaturg Mehmet Murat Ildan eenkeer gesê. As ek ‘n kers aansteek, of doodblaas, praat dit met meer as my siel. Die reuk van ontbrandende of gebluste kerspit verplaas my sestig jaar terug in tyd.
Vir kosbare oomblikke is ek weer in van my vroegste en beste kinderherinne ringe. Dan is ek terug in my ouma se kombuis in haar kleisteenhuis aan die noordekant van Kemptonpark.
Ek sien weer die suisende Tilley-paraffienlamp met sy pompie in die middel van die emalje-kombuistafel en die grootmense wat sit en politiek gesels elke keer wanneer die radio piep-piep-piep, piep-piep-piep, piep-piep-piep in morsekode die nuus aankondig. Ek ruik die geel emalje-koffiepot met die sakkie Kenna op die koolstoof. Ek en my sussie sit op die vloer en speel en ons kyk na die silhoeët van die grootmense se figure en bewegende skaduwee-hande teen die mure. Ons sien feëverhale in die skadu's afspeel. Drake en ‘n prins wat in die silhoeët van die torinkies van Ouma se koskas woon.
Jare later het daardie klompie hektaar grond van my ouma plek gemaak vir ‘n gholfbaan, en toe kom die meenthuise. My ouma het op die dorp gaan woon in ‘n huis met elektrisiteit en die towerkrag van die feëverhale in die silhoeëtte teen die mure was