Dis Oktober – die mooiste, mooiste maand. Aldus Leipoldt. Onder in die straat suis motorbande saggies op die teer verby, terwyl die ligte van die ou Telkomtoring reëlmatig flikker. Deur die stoep se glasreling kan sy die pers jakarandas in die laatmiddagson uitmaak.
Maar vir Petro is dit allesbehalwe die mooiste maand. Hier sit sy, alleen op haar stoepie in Groenkloof, en sy mis haar jongste spruit verskríklik. Haar en Mila se verhouding is besig om deur haar vingers te glip. Presies hoe en wanneer dit begin gebeur het, weet sy nie.
Sy gaan sit. Nee, sy weet tog. Sy kan amper die dag en datum pinpoint. Dit het begin kort ná Lourens se dood. Net ná die oproep wat haar hele lewe omgekeer het. Haar sterk, atletiese man het ’n massiewe hartaanval by die werk gehad. Die oggend het hulle nog aan die naweek se reëlings beplan, en teen die aand was sy alleen.
En net daar het Petro ’n subtiele onttrekking by Mila begin voel. Onttrek is dalk ook nie die regte woord nie. Op die oog