Graanprodusente het ’n groot verantwoordelikheid om voedsel volhoubaar te produseer te midde van die kwessies waarmee hulle daagliks te doen het. Die afgelope twee seisoene het weer Suid-Afrikaanse boere se afhanklikheid van die klimaat, bemarking en veral insetkoste onder die vergrootglas geplaas.
Hoe bepaal ’n mens die punt waar ’n produksiestelsel optimaal produseer sonder dat insette onnodig vermors word, maar met die voordeligste finansiële opbrengs? In die soeke hierna word onverantwoordelike bemesting dikwels as die sondaar uitgekryt en word voortdurend na die wet van dalende-meer-opbrengste verwys.
Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde met spesifieke verwysing na die huidige stand van sake rondom die plantvoeding van mielies. Hierdie beginsels kan op die meeste ander gewasse van toepassing gemaak word.
Wet van dalendemeer-opbrengste
Die wet van dalende-meer-opbrengste bepaal dat ’n bykomende hoeveelheid van ’n enkele produksiefaktor ’n dalende impak op die wins kan hê. Dié wet aanvaar verder dat ál die ander faktore wat tot produksie bydra, konstant bly.
Internasionaal en plaaslik het mielieproduksie sedert die 1950’s met rasse skrede toegeneem. Daarmee