‘OF HY OP ’N TREIN AAN DIE SLAAP RAAK OF SY VLUG VERPAS – NIKS BRING HOM VAN STRYK NIE’
VROEG in Mei 2009 kom 12 mans in La Rochelle aan die weskus van Frankryk aan, elk met ’n klompie Speedo’s in hul bagasie.
Hulle het nie gekom om te swem nie, maar om te “vlieg”, soos hulle dit stel. Hul sport, wat behels om van kranse, geboue of brûe af te duik, kom altyd met ’n atmosfeer van spannende afwagting, maar dié keer was daar meer op die spel as ooit tevore.
Kransduik is lank reeds een van die obskuurste adrenaliensportsoorte, iets wat niemand voltyds doen nie – ’n stokperdjie vir avontuursoekers.
Maar toe stel Red Bull ’n “kransduikwêreldreeks” bekend, met agt geleenthede in die Europese somer wat honderdduisende toeskouers lok. Dit was ’n kans op roem, en al sou die topduikers nie ’n fortuin verdien nie, kon hulle ’n skaflike bestaan maak.
In gewone duik is die hoogste duikplank 10m hoog. Selfs vir Olimpiese duikers is dit hartbeklemmend hoog. In La Rochelle het die organiseerders ’n kort platform aan die kant van die Middel- eeuse Saint-Nicolas-toring aangebring. Dis 26m bokant die yskoue see – agt verdiepings hoog. In die drie sekondes wat hulle “vlieg”, bereik die duikers meer as 80 km/h.
Teen daai spoed wil jy nie kop eerste duik nie. Hulle moet die water met hul voete breek en probeer om so min moontlik te spat. In elk van hul drie mededingende spronge kan die duikers vorentoe, agtertoe, of – die skrikwekkendste – uit ’n handstaan wegspring.
Terwyl hulle val, doen hulle