Maandagoggend het sy die e-pos begin skryf. Ywerig, vol geesdrif en planne. Vrydag wou sy dit afrond en stuur, maar eensklaps was sy vol vertwyfeling. “Ek het sinne begin uitvee en krities na alles gekyk. Hoe kan ek dit sê, het ek myself afgevra. Dis veels te optimisties . . . Skielik het dit my getref: Dis asof ek twee mense is. Maandag positief en opgewek . . . en vyf dae later somber en onseker.”
Dit het Desirée de Villiers van George verwar. Hoe kan jy sommige dae ernstig oorweeg om jou eie lewe te neem? Net om drie, vier dae later energiek terug te bons? Maar drie weke later is alles weer te veel.
“Op donker dae sou dit kompleet voel asof al my senupunte buite my vel sit. Ek was ongelooflik geïrriteerd – behoede die motorbestuurder wat voor my indraai. Praat iemand bietjie hard met my, was dit die ergste kritiek ooit en ek in trane. Maar sê iemand iets moois, het die trane ook