Blomme het dit als – jy kan dit sien, ruik, voel . . . selfs eet
Heike Hayward van Fleur le Cordeur
Die Instagram-blad van Heike Hayward se blomontwerp-onderneming lyk soos ’n reeks onwerklike sprokiestonele. In een installasie vir ’n trou-onthaal hang duisende wit blomme en stroke tulle in digte, golwende massas van die dak. In die volgende word ’n bruidspaar byna verdwerg deur ’n boog uitspattige pienk en rooi bloeisels voor die kansel. Jy kan jou aan haar skeppings vergaap.
En dít van iemand wat “gerebelleer het teen kreatiwiteit”. “Omdat dit van my verwag is,” lag sy. “My ma,’n kunstenaar en kunslektor, het ons grootgemaak omring deur kreatiwiteit – selfs my pa, ’n boer, is ’n kleurryke karakter. Daarom wou ek my eie ding doen en eerder in ’n sakerigting ingaan.”
Ná vyf jaar as ’n voorsieningskettinganalis het haar prioriteite verander toe sy swanger word. “Ek het my werk baie geniet, maar moes byna weekliks van die Kaap na Johannesburg vlieg, en dis nie die soort ma wat ek wou wees nie. Ek wou daar wees vir my kind, maar het ook geweet ek is nie die tuisblytipe nie. Toe bedank