Jy sal fyn moet kyk as jy Kameel op ’n kaart wil soek. Dit is nié ’n plek waaroor mense gedurig gesels nie. Die kanse dat jy iemand sal hoor vertel van ’n besoek aan Kameel is baie na aan nul.
Kameel is kléín. Só klein dat Stella en Delareyville, die twee dorpies weers-kante daarvan, baie bedrywig lyk. En Vryburg… pure stad, man!
Kameel het nie eintlik strate nie. ’n Stukkie teer swaai van die R377 af en slinger verby die Kameel Rust &Vrede-gastehuis en 21 silo’s. Net ná die Wil-rick-supermark maak die pad ’n skerp draai na links, verby nog 28 silo’s, 5 huise en die laerskool. By die NWK – die koöperasie – eindig die teer én alles wat van Kameel ’n dorpie maak.
As jy vroegoggend in die “hoofstraat” staan, hoor jy hoe die 42 kinders buite die skoolgebou ons land se volkslied sing. Die Engelse deel is effens onduide-lik. Leonie Brand, die skoolhoof,