Die vrolike, bekende geklets van ’n swartoogtiptol in die boom agter my laat my vir ’n oomblik dink aan hoe lekker dit is om soms net in ’n tuin vol geveerde vriende te sit. Maar dan, verder weg, hoor ek ’n bloukuifloerie roep en later ’n gewone boskraai se gehuil. Hierdie is geen voorstedelike tuin nie – dit is iets veel wilder.
Ek het laatmiddag uit die Ntshondweruskamp gery en omtrent dadelik links gedraai op die Nghubu-sirkelpad. Die hoofpad na Ntshondwe is teerpad (van die nabygeleë Louwsburg af), maar nou is ek op ’n grondpaadjie – een van Ithala se 4x4-roetes. Die eerste paar honderd meter is egter maklik om te ry en dit het my gebring tot hier by die Mgamgela-uitkykpunt.
Ithala het verskeie uitkykpunte waar jy uit jou kar mag klim en op ’n houtdek kan staan – of op ’n rusbankie sit – en na die landskap kyk. Die reservaat het oorgenoeg groter diere om op ’n wildrit te sien, maar Mgamgela bied ’n wyer blik oor die bosse en klowe wat Ithala uniek maak. Met jou motor se enjin afgeskakel, vind jy ook skielik die plesier van die klanke, reuke en selfs teksture van die natuur rondom jou.
Ek haal my verkyker