Geen mens kan ooit daarop voorbereid wees nie: Wanneer jy in die stikdonkernag wakker word en besef daar is mense in jou huis. Óngewenste siele. Op daardie oomblik, selfs deur die newels van ’n diep, diep slaap, wéét jy die fluisterstemme en swaaiende flitslig in die vertrek langs jou slaapkamer is nie goeie nuus nie. Jy vlieg op, eerstens dankbaar dat jy klere aan jou lyf het, en dan som jy die situasie blitsvinnig op, neem binne ’n splitsekonde tientalle besluite: Is dit ’n droom? Waarmee kan ek my verdedig? Jy kyk rond in die duisternis, dink op daardie oomblik verby die handgekerfde knopkierie wat ’n vriend persent gegee het, verby die loodsware Moeder Maria-beeld wat al die pad uit Kroasië saamgekom het. Jy sien drie figure… sê nou hulle het ’n mes… nee, hulle is te klein, dalk kinders…
Jy verras die drie, gebukkend oor jou lessenaar vol rekenaars, kameras en ander lewensmiddele, met ’n mooi hoflike: “En wat gaan nou hier aan?”
En dan, anders as wat jy ooit gedink het, volg ’n woeste jaagtog. Gille van die huisbewoners… gejaagde asems van rowers. Sekondes van volslae chaos wat soos ’n leeftyd voel, dalk eeue. Hulle mik vir die venster waar hulle ingekom het, maar jy kry die laaste een aan die enkels beet. Nog gille en krete en swetswoorde, maar jy klou verbete. Hierdie rampokker oorhandig jy vandag aan die polisie. Jy hoor nie die herhaaldelike “kap hom met die mes!” nie, sien geen bloed nie. Jy gaan in