’n Turkse draai
Nes ons die grens van Griekeland met Turkye oorsteek, tref die winter ons. Dis Desember en die middagtemperature is láág. Dit het begin sneeu! Snags daal die kwik tot rondom -4 °C en ons slaap elkeen met ’n serp én ’n mus binne-in twéé slaapsakke.
Die aande is nog draaglik, maar die oggende! Om in ’n daktent te kamp het sy uitdagings: Eers moet ons die kondensasie teen die binnekant van die seil afvee voordat ons die tent wat stokstyf geys is, kan platslaan. Ons moet Kukuza, ons 2001-Hilux, met ’n gesukkel aan die gang kry sodat ons die verwarmer kan aanskakel vir ’n bietjie hitte terwyl die koffiewater kook. Die lewe kruip dan stadig terug in ons vingers, ons slimfone word aangesit en dán eers kan ons die GPS aktiveer en begin ry.
Ons ry Turkye by die Kipi-Ipsala-grenspos in met net een doel voor oë: Kry die Carnet de Passage gestempel om te bewys dat die Hilux Europa verlaat het. Sonder dié stempel loop ons die gevaar om ons R90 000-deposito by die AA in Johannesburg te verbeur. Dit verg ’n paar hitsige gesprekke met Griekse doeanebeamptes, maar ons kry eindelaas die dokument gestempel.
Aan die Turkse kant wou hulle eers die hele voertuig deursoek en ons moes mooi verduidelik dat die “groot ding in ’n militêre kleur”net ’n daktent is.
Verder was daar genadiglik geen moeilikheid nie. Volgende op die agenda: Gaan soek ’n warm slaapplek in die stad Edirne, nog sowat 200 km se ry van die grens af.
In die eerste paar dae in Turkye verskaf drie dinge oneindig baie vreugde: Die Edirne Palace-hotel se ontvangslokaal met ’n temperatuur van 28°C, die aanskaf van ’n ordentlike winterduvet en die goedkoop dog smaaklike kitskos!
You’re reading a preview, subscribe to read more.
Start your free 30 days