KORTVERHAAL
Die oggende word ál kouer en dis al donker as Dedda saans by die huis kom, praat Nathan met homself. Dis ’n gevreesde tyd vir Nathan, sy jonger sussie, Sahara, en hul mamma, Sara.
“Vir ’n negejarige klong is jy baie verantwoordelik,” sê Mamma altyd. Want voor die straatligte saans aanslaan (wat baie selde in Blikkiesdorp gebeur) is Nathan al besig om die vuur aan te steek vir waswater vir homself en sy sussie.
Maar hoe kan hy anders as hy na Mamma en Sahara moet omsien? Dit is wat Dedda sê as hy saans na sy pelle toe: “Jy is nou die man van die huis, Seun. Kyk na die vroumense. Ek loop eers.”
Nathan voel altyd so in beheer as hy hierdie woorde hoor, maar tog roep ’n stemmetjie binne-in hom: “Nie vanaand nie, Dedda. Asseblief, nie vanaand nie. Ek skryf toets môre, Dedda. Asseblief!”
Maar Dedda mis nie ’n kuier saam met sy pelle nie – oom Dawie onder in die pad, wat altyd