MET sy arms om sy Blitsbok-broers se skouers geslaan, staan hy in die middel van die veld voor ’n stampvol stadion in Dubai.
Die jong speler se gesig is vertrek van emosie terwyl sy lippe die woorde van ons landslied vorm. Dan is dit asof ’n damwal breek, en die trane stroom oor sy wange.
Só lyk verdriet en trots wat vermeng.
Aan die een kant is daar die trots van Dewald Human (28) om sy land in die eindstryd van die Dubai-sewestoernooi te verteenwoordig, en aan die ander kant die verlange na sy suster, Marelize Human, wat onlangs op 33 oorlede is.
In hierdie roerende kamera-oomblik is dit nie duidelik waar die een begin en die ander ophou nie.
En toe gaan speel hy ’n barshou vir sy suster.