DIE naam op die balkondeur van skoutadmiraal Arnè Söderlund se ruim huis buite Simonstad is al ’n leidraad, maar niks kan jou regtig voorberei op wat binne wag nie.
Daar staan dit op die plakkaat: “Den of Antiquity.” En metdieselfde slimstoute humor, langsaan: “Junk and Disorderly.”
Die kennisgewing sê dis ’n privaat museum, besoeke kan net vooraf gereël word. Die toupaal naby die deur, die uitsig op die hawe waar oorlogskepe vasgemeer lê en ’n ou skeepsanker in die parkeerplek verklap ’n voormalige vlootoffisier woon hier.
Maar die sowat 400 verskillende versamelings wat ’n mens in Arnè (75) se kraaines van oudhede oorweldig – “ek probeer nie eens tel hoeveel items altesame nie” – strek veel wyer as die vloot of militêre dinge.
Hier is ’n magdom uniforms, medaljes, vlae, skietgoed, bajonette en swaarde