WENBRIEF
Leer uit veldbrande
Ek is so bly ons nader nou die einde van vanjaar se brandtyd. Elke keer as daar ’n WhatsApp-boodskap deurkom, wil ek onder die bed induik, want die eerste wat ek dink, is dat dit weer iewers brand.
Ek het self aan die begin van die brandtyd ’n klein brand gehad, maar die brande die afgelope paar weke is skrikwekkend.
’n Mens het baie simpatie met die boere wat skade gely het, maar moet ons nie maar kyk na die afgelope twee of drie jaar se gebeure en iets daaruit leer nie? Hoeveel behoorlike voorbrande was daar?
Ek praat nou van stroke wat gebrand is. Die nuutste neiging, self langs Suid-Afrika se hoofweë, is om net die gras te sny. Sny, skraap en skottelbewerking werk net om die vuur se spoed te breek. As daar niemand is op die lyne wat gesny is om die vuur te keer nie, help dit niks nie. Die wet sê immers dat ’n voorbrandstrook “vry moet wees van brandbare materiaal” – nie kort nie.
Aan die begin van die brandtyd is gewaarsku dat vanjaar ’n gevaarlike jaar gaan wees vanweë die goeie reën en gevolglik baie brandbare materiaal. Hoekom het die boere nie voorbrande gemaak nie?