As kind leer jou ouers jou om te sê “Ek is jammer” as jy jou sussie met ’n blokkie raakgooi wanneer julle huishuis speel. Hoekom het kinders die vermoë om daarna weer vreedsaam voort te speel? Omdat die spel belangriker is as die geveg? Ons weet in die grootmenswêreld lyk dinge nie so eenvoudig nie. “Ek is jammer” is dikwels nie die towerwoorde wat alles eensklaps gaan regmaak nie.
Die komplekse verduideliking is waarskynlik dat mense van mekaar verskil: ons persoonlikhede en dinge soos opvoeding, agtergrond en waardestelsels kan wyd uiteenlopend wees. Daagliks word hierdie verskille in ons denke en gedrag uitgelig, hetsy in ons verhouding met ’n maat, tussen ’n ouer en ’n kind, vriende en kollegas. En ongelukkig kan ons verskille ’n teelaarde wees vir misverstand, onenigheid, die verbreking van bande, selfs vergrype en oorlog.
Algaande ervaar ons teleurstelling . . . hartseer, pyn, ’n gevoel van verlies en verwerping. Ons verloor ons kinderlike onskuld en onvoorwaardelike aanvaarding van