Ek wou nog altyd die Addoolifant- nasionale park besoek. Kaapstad is my grootwordplek en ek het as tiener reeds oor die Addo se grootvoete gelees. Die park se ontstaan in 1931 is ’n boeiende storie, en gebore uit ’n poging om die laaste 11 oorlewende olifante in die omgewing te beskerm. Gits, dis net een krieketspan se olifante! Dié olifante het saam die laaste trop buffels in die Kaap in die ruigtes gehou en só aggressief geword dat wildkykritte tot 1980 in die park verbied is.
Vandag het die park ’n bevolking van 650 olifante waarvan die meeste in ’n area van 240 km² (Hoofkamp- en Colchesterdeel) hou; Addo het dus van die digste olifantbevolkings in Afrika. Troppe loop ook in twee ander dele van die park – Nyathi en Darlington. Daarby word Addo se grootvoete deesdae as van die meer ontspanne olifante gereken – goeie nuus vir toeriste.
Ander ikoniese spesies is sedertdien in die park vrygelaat, soos die swartrenoster (1994), leeu (2003), gevlekte hiëna (2003), sebra (1996) en seekoei (1992).
Die park bestaan uit sewe dele (sien die kaart op bl. 29) wat op ’n eerste besoek Grieks kan wees… Maar lees hier en verstaan die park beter.
Goed, beter, biome
Buiten olifante is Addo se ander groot trekpleister dat vyf van die nege biome in Suid-Afrika hier voorkom. ’n Bioom, of eko-streek, is ’n gebied waarin plante en diere aangepas het om in daardie spesifieke