DIE blonde vrou staan nader om te groet en skielik flits die skokkende beelde weer deur ’n mens se gedagtes: houe en skoppe wat genadeloos op haar neerreën.
Maar dis ’n nuwe vrou wat op hierdie winterdag in Durban voor jou staan, vriendelik en vol selfvertroue. Haar grimering is subtiel, want dis nie meer nodig om die tekens van haar vervreemde man se houe met ’n poeierkwas te verbloem nie.
Nicoleen Swart raas eers gemoedelik met die gesin se twee hondjies wat vir die apies op die huis se dak blaf. “Verskoon hulle,” sê sy en lag. “Die apies terg die honde, en hulle kan dit nie verdra nie.”
Sy gesels so vrolik dat dit byna ondenkbaar is om te dink dis dieselfde vrou wat voorheen so stukkend was – verrinneweer deur haar