ANNEMIEN storm die woonstel binne, plak haar handsak op die toonbank neer en kreun. “Dié date was wraggieswaar iets uit ’n horror movie, Jacques. Waar kom jy aan dié Gulsige Gawie-vent? Eers verslind hy sy eie pizza en toe kwyl hy letterlik die kos van my bord af. En dan’s sy beursie glo tuis vergeet. Nee, deksels man!” Haar blou oë blits van pure ontsteltenis.
“En dit ná ou Neulsiek Neels en Bennie Bleeksiel van laas maand. “Dan word ek liewer alleen oud, dankie! Dis beroerd vernederend. Nóóit weer gaan ek op enige toe-oë-afspraak nie. Hoor jy my mooi?”
Jacques haal sy bril af, strek homself behaaglik uit en staan op van waar hy agter sy rekenaar gesit en werk het. Hy klik sy tong gemaak simpatiek. “Nooit is ’n lang tyd, vriendin. Ai, Ammie, ek’t maar net gedink hy’s ’n veiliger afspraak as ou Fikse Fred met jul daglange bergklimuitstappie.