KOLJOERNALE
Ek kan eenvoudig nie ’n mooi notaboek weerstaan nie. So het ek al verskeie kere op ’n oorsese lughawe met loodswaar tasse in die hand gehoop en gebid hulle laat my bagasie op die vlug toe sonder om my ’n klein fortuin aan ekstra gewig te vra. Hier een uit ’n mark in Florence, daar een uit ’n afdelingswinkel in Berlyn, nog hope uit al wat die naaste skryfbehoeftewinkel is.
Pragtig maar doelloos het hulle jare lank in my kas opgehoop, totdat ek die nut en vreugde van ’n koljoernaal,, ontdek het. Ja, in die joernaalwêreld is dít my keuse. Voor dit was ek ’n persoon met lysies oral, geel plakkertjies net waar jy kyk én ’n dagboek om my lewe te beplan.