Kindwees in die Karoo was die lekkerste tyd van my lewe. Dalk dink jy dit is hartseer dat my beste tye dekades gelede gebeur het, want wat van nóú en wat nog voorlê? Ek voel anders. Die vryheid en mensliewendheid wat ek as kind in die Karoo beleef het, is die mandala in die middel van my menswees. Ons neefs en niggies was ’n wilde trop, maar as ouma Betty die klokkie vir Sondag se feesmaal gelui het, het ons op ’n streep aangetree, skryf Bianca du Plessis Malan
Die Sondagmaal was die hoogtepunt van enige plaasbesoek. Maak nie saak hoe warm die dag, ouma se Aga het van brekfis af reg deur gebrand. Dit was in die tyd voor vrees vir stysel en té veel vleis. Daar was altyd brosgebraaide aartappels én rys of koring vir die lekker gravy. Groenbone uit die tuin is met nóg aartappel en witpeper gekook, blomkool het knus onder sy kaassous gelê en skywe boerpampoen is met suiker en kaneel gebak. Altans, dit is hoe ek dit dekades later in my geestesoog sien.
Maar daar skort iets met die kiekie in my kop. Ek het my dood gegril vir slaai tot in my tienerjare, so die prentjie is heeltemal slaailoos. Was dit ingelegde beet of die gestolde slaaie wat in die sewentigs so