Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Onkant!: 'n Rugbyliefdesverhaal
Onkant!: 'n Rugbyliefdesverhaal
Onkant!: 'n Rugbyliefdesverhaal
Ebook217 pages3 hours

Onkant!: 'n Rugbyliefdesverhaal

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

"TOE EK IN MY EERSTE WÊRELDBEKERWEDSTRYD UITDRAF, WAS DAAR IETS SOOS 54 000 MENSE. JY SIEN NET KAMERAFLITSE, DIS AMPER HIPNOTIES . . . DIE COACH SKREE VIR MY: 'CHUCKY, WAARMEE IS JY BESIG?' TOE BESEF EK EK IS BESIG OM VIR DIE MENSE TE WAAI." – LOUIS 'CHUCKY' VAN DER WESTHUIZEN
Het jy al ooit gewonder hoe 50 000 ekstatiese ondersteuners op die paviljoen klink of wat dit beteken om 'n Springbokbaadjie in jou kas te hê?
In die aanloop tot die Rugbywêreldbeker het die joernalis Hendrik Hancke die land deurkruis om met oud-Springbokke, provinsiale spelers, breiers en 'n rugbyskrywer te gesels oor hul liefde vir rugby. Hulle deel persoonlike oorwinnings en teleurstellings, die lesse wat rugby hulle al geleer het, spesiale kleedkamer-oomblikke en stories oor wat van die veld af gebeur.
Schalk Brits verduidelik byvoorbeeld waarom dit so noodsaaklik is vir 'n Springbok om 'n spanspeler te wees, terwyl Gcobani Bobo aangrypend vertel van sy reis met rugby van King Williamstown tot Nieu-Seeland. Frik du Preez lig weer die sluier oor hoe dit was om in die 1960's te toer en die kattekwaad wat hulle aangevang het, terwyl Jean de Villiers deel wat dit beteken om Springbokkaptein te wees.
As jy Saterdagmiddae kliphard vir die televisie skree, of op die sypaadjie sal slaap om 'n kaartjie vir 'n groot wedstryd te kry, dan is dié boek vir jou.
LanguageEnglish
PublisherJonathan Ball
Release dateAug 31, 2023
ISBN9781776192656
Onkant!: 'n Rugbyliefdesverhaal
Author

Hendrik Hancke

HENDRIK HANCKE is a journalist at the Sunday Times in Johannesburg. In a previous life, he was a performing poet, playwright and artist manager. Hendrik worked for several years at Rapport, where in 2017 he won two Legend24 awards for investigative journalist of the year and feature writer of the year. He also got his first taste of sports writing at Rapport by penning several sports features. For as long as he can remember, he’s been a huge fan of rugby.

Related to Onkant!

Related ebooks

Sports & Recreation For You

View More

Related articles

Reviews for Onkant!

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Onkant! - Hendrik Hancke

    9780624089810_FC

    Onkant!

    ’n Rugbyliefdesverhaal

    Hendrik Hancke

    Jonathan Ball Uitgewers

    Johannesburg & Kaapstad

    Inhoudsopgawe

    Titelblad

    Opdrag

    Voorwoord

    Inleiding

    Frik du Preez

    Gcobani Bobo

    John Dobson

    Louis van der Westhuizen

    Schalk Brits

    Robert Ebersohn

    Brendan Venter

    Teboho Mohojé

    Antonie Claassen

    Breyton Paulse

    Jean de Villiers

    Ruan Pienaar

    Eben Etzebeth

    Vata Ngobeni

    About the book

    Oor die skrywer

    Foto seksie

    Imprint page

    Vir die rusbankkykers, die kantlynkrygers en al die Google-experts, maar bowenal vir my ma met haar eindelose geduld.

    Ook vir Géta en Louis, die beste sibbe waarvoor ’n mens kon vra.

    Voorwoord

    Toe ek hierdie boek se titel hoor, dink ek dadelik: HIER KOM ’N DING.

    Onkant! kon seker ook die titel van die eerste rugbyhygroman in Afrikaans gewees het … en dis vir my mooi en goed so.

    Dink ek aan my eie verbintenis met rugby – dis nou as toeskouer, nie my loopbaan as onbelowende hoërskoolstut nie – kan ek dit ook as soort ’n liefdesverhouding beskryf. ’n Onstuimige liefdesverhouding met al die nodige drama, meer dikwels dalk melodrama, wat daarmee gepaardgaan. ’n Mens sou kon sê ek het as laerskoollat in die 1970’s op die WP- en die Springbokrugbyspan verlief geraak, met dieselfde drif waarmee ek op Marie Smit met die draadjies in haar tande verlief geraak het.

    En nes Marie Smit die eerste briefie en vier Wilson’s-toffies wat ek vir haar gestuur het vir my teruggestuur het, het die WP my hoop knaend verydel. In 1976 het ons die Curriebeker-eindstryd verloor. Teen die dekselse Vrystaat. Dit het gevoel asof Marie Smit meer van die skeel outjie met die sproete in die B-klas gehou het as van my wat my spiere elke middag met ’n Bullworker in ons garage geoefen het.

    Eers vyf jaar later, in 1982, het die WP my verslingerdheid beloon deur die Curriebeker teen Noord-Transvaal te wen. Vir my was dit tóé rugby se weergawe van ’n eerste oopmondsoen onder die sterre.

    O, en hoe het die liefde nie in die jare ’80 geblom nie: Vyf jaar ná mekaar wen WP die Curriebeker. Daardie aande en nagte – ek het toe in Pretoria gewoon – onder die sterre langs braaivure, in kroeë en op sypaadjies naby Loftus Versfeld.

    Toe draai die liefde weer skuins, vir vier jaar, tot in 1991. Dit was die laaste ronde van die gewone wedstryde en WP speel teen Vrystaat. As die WP wen, sou hulle deurgaan na die uitspeelrondes. Ek en my vriend Gert, ook ’n WP-man, ry in sy aamborstige Opel van Pretoria Bloemfontein toe. Die feesvieringe begin reeds op pad, in die Ventersburg-hotel se kroeg. Die WP lyk al die hele seisoen goed.

    Naby die einde van die wedstryd – ons het die veld darem veilig gehaal – is die telling gelykop: 18 elk. FC Smit, WP-slot, kry die bal in ’n lynstaan en bars deur – en daar trek FC, hy gaan druk, hy gaan druk! Maar opeens is daar ’n kaal man op die veld, ’n kaalnaeler in lang wit kouse – Bryan Baenhoff, ’n elektrisiën van Welkom, wat meer as ’n halfdosyn biere sterk was. En hy trek FC Smit plat.

    Kort daarna druk die Vrystaat ’n drie en wen die wedstryd. Ek onthou hoe ek daardie nag verdrietig saam met Gert terug na sy Opel toe stap, asof my verloofde van jare pas vir my gesê het sy gaan eerder met ’n elektrisiën van Welkom trou en die ring vir my teruggee. Gert murmererend oor die onregverdigheid van die liefde langs my in die donker.

    Ek is seker baie rugbymense – mans en vroue, jonger en ouer, elkeen op hul eie manier – ken hierdie soort liefdesverhouding wat ’n mens met rugby en die span, of spanne, van jou hart het. Tog lees ’n mens min daarvan en daaroor. Met enkele uitsonderings word daar weinig oor rugby in Afrikaans geskryf, behalwe die gewone rugbyberigte en -profiele in die media. Die kans is oneindig groter dat die hoofkarakter in ’n Afrikaanse roman ’n beeldhouer van Stellenbosch met ’n roerende belangstelling in die werke van Jacques Derrida sal wees eerder as ’n ou van Randfontein wat op ’n Saterdag rugby kyk en hom bekommer oor die eksistensiële krisisse wat daarmee gepaardgaan.

    Ek praat ook nie van ’n biografie van ’n bekende speler of beampte wat van tyd tot tyd verskyn nie. Daardie biografieë is omtrent altyd maar bra sielloos, dikwels geskryf deur ’n betaalde spookskrywer of joernalis en deeglik deur bemarkingsmense gefynkam sodat die speler se openbare beeld geensins skade ly nie. Dus: Die speler mag nie te veel na ’n mens klink nie.

    Daarom het ek Hendrik Hancke se boek – hierdie een wat jy in jou hand hou – met groot verwagting oopgeblaai.

    Op een van die eerste bladsye lees ek oom Frik du Preez sê: Die eerste skrum druk hulle my so hard, ek staan regop en lyk soos ’n kaptein wat kyk of die agterlyn regstaan.

    En daarna Gcobani Bobo se pa se reis van haat tot liefde met die Springbokke. Toe weet ek dis die soort rugbyboek waarna ek smag. Dis deurtrek van menslikheid – die menslikheid wat verlore gaan in die rugbykenners, professioneel of selfaangesteld, se knaende ontledings, menings en praatjies.

    Om deesdae van rugby te hou voel by tye ’n bietjie soos om verlief te wees op een van die housewives van Pretoria of die Wynlande. Geld en skitterskyn het baie dinge in rugby verander. Daarom is dit interessant om te hoor wat John Dobson, ’n afrigter en gewese speler, en van die spelers daaroor sê. Hoe eerlik en intelligent praat Robert Ebersohn nie net oor hoe rugby sy identiteit help vorm het nie. Elke jong speler behoort dit te lees. En Schalk Brits wat nie kan verstaan van Bakkies Botha wat die ouens altyd so afgeknou het en dan voor ’n wedstryd staan en bid nie.

    Hendrik het sy titel fyn gekies: Hy is duidelik verslingerd op rugby, ’n Vrystaatondersteuner wat die dag toe Baenhoff vir FC Smit neergetrek het moontlik feesgevier het. Maar hy het rugby lief genoeg om die spelers op hul gemak te stel en hulle spontaan oor die spel te laat praat. Die opregte manier waarop die spelers oor hul liefde vir die spel praat, het my telkens onkant betrap.

    Ons ouer geslag rugbyliefhebbers, wat eens hoofsaaklik van die radio en koerante afhanklik was vir ons rugbyinligting, sal die woorde ken: Dikwels was dit op ’n Saterdag voor ’n belangrike Curriebeker- of toetswedstryd die koerant se hoofopskrif op die voorblad: HIER KOM ’N DING.

    Ek hoop Hendrik is reeds besig met ’n opvolg vir hierdie boek.

    Dana Snyman

    Kaapsehoop

    Inleiding

    As dit by die ondersteuning van ’n rugbyspan kom, het ek nooit ’n kans gestaan nie.

    Op 19 Julie 1976 – enkele maande voordat die Vrystaat die Curriebeker die héél eerste keer in Bloemfontein staangemaak het – het pa Piet, in sy wintersnagklere met ’n sweetpak bo-oor, in die hart van ’n ysige winter met ma Elma Universitas-hospitaal toe gejaag. Kraamsaal toe.

    In daardie dae het mans, en veral Vrystaatse mans, nie die geboorte van hul kinders eerstehands aanskou nie en Pa is gou huis toe. Toe hy later by die kraamsaal instap om sy oudste te ontmoet, het die pajamas en sweetpak plek gemaak vir ’n pak klere – hemp, onderbaadjie, baadjie, das, die hele lot.

    Toe Ma hom oor sy kostuumverandering uitvra, was sy antwoord bloot: Mens moet ordentlik lyk wanneer jy jou seun vir die eerste keer ontmoet.

    Met my en Moeder se aankoms by die huis in Bayswater (die wit huis reg langs die polisiestasie) het vier geskenke van Pa gewag. Die eerste was ’n ontpoefingstasie sodat Moeks in gemak my morsige poefdoeke kon uitsorteer. Daarop het daar netjies langs mekaar ’n Super Springbokrugbybal gelê wat in toetse teen die All Blacks en die Franse gebruik is, ’n All Black-spelersdas en ’n 750 ml-bottel Lion Lager, geteken deur my pa en al my ooms. Ek moes dié bier, volgens Pa se boodskap wat daarop geskryf was, op my 21ste verjaardag drink.

    Van my vroegste herinneringe sluit rugby in. Ek onthou die dag toe my pa die sleutels vir die ou Vrystaatstadion in die hande gekry het sodat ek en hy kon gaan bal skop. Dit was sommer so ’n ou goedkoop rubbersokkerbal van OK Bazaars, maar die skoppe was op dieselfde geel grasveld waar ons helde Saterdae gespeel het. Ek onthou vandag nog hoe opgewonde my pa was.

    In 1981 was ’n hele paar Vrystaters deel van die Bokke se opspraakwekkende meelbomtoer na Nieu-Seeland. Die Bloemfonteiners het hul helde én dié se gades op die hande gedra en ons gesin het die vroue ook minstens een aand onthaal.

    Vyfjarige ek was nog ’n bietjie te klein om die rugby self te onthou, maar as ek my oë toemaak, sien ek my pa en sy vriende met koffiebekers in die hand besig om vuur te maak nog voor die son heeltemal op is.

    Ma snorklag toe ek haar jare later daaroor uitvra. Sy beweer nou daardie koffiebekers se inhoud is beslis nie in ’n koffieplantasie geoes nie. Dít glo ek nie vir ’n oomblik nie, want álmal weet tog Vrystaters is manne van die kerk.

    Omdat Springboktoetse in daardie dae skaarser as hoendertande was, was provinsiale rugby die hart van Suid-Afrikaanse sportontspanning. Die Bulle, die WP, Vrystaat en Transvaal was die héél grotes. Ons as Vrystaters was spesiaal.

    Ek onthou hoe my pa die paar keer wat die Springbokke wel in toetse gespeel het, nie kon wag vir die bekendmaking van die span nie. Hy het dan daar in die TV-kamer gesit met sy 30’s-pakkie Paul Revere onderstebo op sy skoot. Agterop was sy Springbokspan se name neergeskryf. Soos die nuusleser die name lees, sou Pa dan ’n regmerkie of kruisie agter elke naam maak.

    Die probleem was dat Pa ná die tyd meestal net met kruisies gesit het. Die rede? Hy het elke keer basies die hele Vrystaatspan gekies! Dís nou vir jou lojaliteit.

    In 1989 sterf pa Piet aan kanker en skielik word ons gesinnetjie se hele wêreld omgedop. As 13-jarige seun is ek skielik die man in die huis, maar inderwaarheid klou ek verbete en met slegs my vingernaels vas aan die wipwaentjierit van emosie. In daardie dae was terapie vir kinders ongehoord en daar was dus geen battery van sielkundiges wat my deur dié aaklige hoofstuk kon help nie.

    Dankie tog vir die Vrystaatrugbyspan. Winter-Saterdae was die Wit Masjien nog ’n skrale enkeldraadjie wat my en my oorlede pa aan mekaar gebind het. My geduldige moeder – haar geduld was wyer as die eindelose Vrystaatse vlaktes – het my al die ruimte in die wêreld gegun om hierdie laaste oorblywende stukkie Pa te koester en te bewaar. Sy was nie alleen nie.

    As jong man was my pa se twee beste pelle oom Nick Bojé en oom Ewie Cronjé - al twee van hulle is ons ook sedertdien vooruit. Dan was daar ook my vurige Vrystaat-ooms aan my pa se kant, oom Faan en oom Wikus, en my ma se vier broers, oom Ouboet, oom Hap, oom Gert en oom Thinus, maar veral oom Thinus, wat altyd geduldig my liefde vir rugby bly voer het met staaltjies en stories.

    Wanneer Vrystaat die Saterdag gewen het, mag ek oom Nick se oudste, Louis, gebel het. Louis Bojé was toe die Vrystaat se voorkeur-losskakel. Die eerste twee keer toe my tienerhart gebreek het, was daar geen nooiens betrokke nie. Die eerste keer was toe Louis die Vrystaat in die middel-1990’s vir die WP verruil het en die tweede keer kort daarna toe my ander groot held, André Joubert, Natal toe getrek het.

    Sedertdien het Bokrugby weer sy regmatige plek op die wêreldverhoog ingeneem en kan ons as Suid-Afrikaners ons helde uiteindelik as een nasie ondersteun.

    Binne net meer as ’n jaar het ek na die siel van rugby gaan soek in gesprekke met oudstryders soos ons geliefde oom Frik du Preez, meer moderne helde soos Eben Etzebeth, Oupa Mohojé, Ruan Pienaar, Gcobani Bobo en Jean de Villiers en ook die afrigter John Dobson. Wat ek ontdek het – en dis maar net die oortjies van die Springbok, so baie rugbystories het ons – is in hierdie bundel saamgebind as ’n (hopelik) meesleurende ode aan ons almal se gunstelingsport. Ek hoop jy geniet die reis saam met my.

    Laastens, ek is baie dankbaar vir die liewe Rané Oelofse, Cilliers Jordaan en die lugredery Lift wat my droom vlerke gegee het sodat ek nie net in Johannesburg stories hoef te gesoek het nie.

    Frik du Preez

    Van Brusselse spruite tot ‘oormorrow’

    Hy is Suid-Afrika se rugbyspeler van die 20ste eeu, deel ’n intense haat vir Brusselse spruitjies met ’n legendariese staatshoof en het die eerste keer Bok geword nadat Noord-Transvaal hom gedrop het.

    In Pretoria se ooste maak tannie Bes die deur oop. Toe oom Frik du Preez in sy middel-40’s was, het sy die geswore oujongkêrel se voete onder hom uitbekoor.

    Kom binne, kom binne. Oom Frik wag vir jou. Hier was ’n professor wat ook ’n boek skryf, maar hy is nou net hier weg, nooi sy gulhartig.

    Op ’n gemakstoel in ’n kuiervertrek versier met foto’s en aandenkings wag die man met die piesangtrosse vir hande en trokvere vir bene, soos my geliefde oorlede oom Gert hom eenkeer aan my beskryf het.

    Tannie Bes bied nattighede aan, maar omdat ek reeds water het en nog moet terugbestuur Johannesburg toe, wys ek haar aanbod beleefd van die hand. Oom Frik sug teleurgesteld en ek kan myself skop oor my swak beplanning in die dae van Ubers. Wie wil nou nié ’n bier saam met Frik du Preez drink nie?

    Ek sal jou nou vandag ’n paar stories vertel. Moet dit net nie te dramaties skryf nie. Ek het in die Bosveld grootgeword, maar ek wil nie oor my kinderjare praat nie, want ek het arm, baie arm, grootgeword. Oor rugby gesels ek egter graag. Die eerste keer wat ek met rugby te doene gekry het, was toe ek op hoërskool kom. Ek het nie skoene gehad nie, so toe speel ek sonder skoene, vertel oom Frik terwyl sy oë ver paaie loop.

    Die onderwyser het gesê die bal moet vleuel toe en die vleuel moet hoekvlag toe. Toe word ek ’n vleuel. Dit was ander tye.

    Hy grinnik. Jy moet verstaan, ons onderwyser het met ’n suit opgedaag vir oefeninge. Maar ek was ’n lekker vleuel tot ek eendag hoekvlag toe gehardloop het in plaas van pale toe. My verduideliking aan die onderwyser van ‘maar Meneer het gesê ’n vleuel hardloop hoekvlag toe’ het nie lekker gevat nie.

    Dit was nog nie die einde van sy sorgelose agterlyndae nie. Ek was ook senter, vleuel, losskakel en op skool het ek ’n bietjie flank gespeel, maar dit was dadelik nie vir my lekker nie.

    Toe gebeur die lugmag met ’n Bosveldseun. Volgens oom Frik het die ding hom tóé eers regtig gebyt.

    Nou is daar hierdie sersant met so ’n rooi snor. Ek sê vir hom ‘oom’, toe byt hy amper my kop af. Hy vra my: ‘Speel jy rugby?’ Ek sê: ‘Ja, Oom.’ Hy skree: ‘Ek is nie jou donnerse oom nie, ek is Sersant!’ Ek sê: ‘Ja, Sersant.’ Hy vra watter posisie ek speel en ek sê heelagter. Skielik skree hy: ‘Heelagter se gat, man! Jy is ’n slot.’ Ek besef toe my agterlyndae is getel.

    Soos alle ander belangstellendes daag oom Frik by die rugbyveld op. Ek het in my lewe nog nooit slot gespeel nie. Nou is daar ’n lynstaan. Man, niemand spring nie, dan vat ek maar die bôl. Dis nie vir my moeilik nie.

    Maar die skrums was ’n perd van ’n ander kleur. "Ek sê later vir ons sammajoor ek kan nie, my ore kry te seer as ons skrum. Hy sê vir my: ‘Oukei, ruil jy en die voorry dan om.’

    Die eerste skrum druk hulle my so hard, ek staan regop en lyk soos ’n kaptein wat kyk of die agterlyn regstaan. Nog een skrum later was ek terug op slot en toe bly ek maar een, lag hy. Ons het nie eens daardie dae lynstaantekens gehad nie. Die vleuel gooi net in en ek vang hom. Dis hoe dit later op provinsiale vlak ook gewerk het.

    Al was hy ’n Springbok, was oom Frik ook ’n ondersteuner en deur die jare het hy, soos hierdie skrywer vandag, van sy rugbyhelde ontmoet. Op ’n keer het ek Bubbles Koch [die slot wat in 1949 in vier wentoetse vir die Bokke teen die All Blacks gespeel het] ontmoet en toe sê ek vir hom: ‘Weet jy wat, jy was my hero toe ek ’n kind was.’ Hy sê vir my: ‘En weet jy wat? Jy was mý hero toe jy gespeel het en ek oud word.’

    Oom Frik neem ’n slukkie water in die Pretoriase hitte en oorweeg sy woorde versigtig. Dis die ding. As mens oud word, beweeg jy weg van speler wees terug mens toe en dan word jy weer self ’n fan, want dis hoe rugby werk.

    Hy glimlag oor ’n rekord waarop Bubbles hom gewys het. "Ek en hy is die twee kortste slotte wat nog ooit vir Suid-Afrika gespeel het. Ons al twee is

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1