PÊRELPIENK en ligpers seepborrels verskyn op die oppervlak van die water toe Esta die bad se kraan wyer oopdraai. Die sterk straal skiet waterdruppels tot op die rand, en sy staar gefassineerd na die vloeistof wat opdam voor dit teen die bad se rand afloop. Dit vloei stadig af tot in die skuim, soos bloed, maar nie rooi nie. Ook nie taai nie.
Esta trek haar asem in en stroop haar klere van haar lyf af voor sy in die koel water afsak. Die skuim kom tot by haar ken, en sy leun oor en draai die kraan toe. Sy wil nie aan bloed dink nie. Nie vandag nie. Vandag is ’n spesiale dag. Dis haar troudag, en sy wil net aan positiewe dinge dink. Sy wil dink aan die dag toe sy Marius ontmoet het. En aan al die kere wat hulle saam deurgebring het. Ja, dis waaraan sy wil dink. Nie aan bloed nie.
Haar lyf sak laer