Die nuwe geslag boere in die Wes-Kaap is hoogs gekwalifiseerd en kan meestal kies wat hulle ná hul studie wil doen. Dié wat boerdery kies, benader dit met kennis, geesdrif en professionaliteit, maar ook ’n begeerte om meer te leer.
Die mededinging en dissipline van sy tyd as atleet in Amerika en later ouditeur by ’n multinasionale maatskappy het Niel Giliomee (27) uitstekend voorberei vir die presisie en detail wat aanhoudende gewasverbouing in die Overberg vereis.
Sy plan was om Vlakkloof Dohnes, die stoetery wat sy oupa, die legendariese Niel Giliomee (’n stigter van Agri Megaweek op Bredasdorp), tot stand gebring het, en sy pa, Daniel, ontwikkel het, verder uit te bou. Hy het egter gou gesien die somme klop nie. “Die geleentheidskoste van skape is vir my net te hoog.”
Nadat hy plaas toe gekom het, het hulle besluit om hul stoetery te laat saamsmelt met Suidplaas Dohnes van hul buurman Wynand du Toit. Hulle het nog ’n paar honderd Dohne-ooie, maar die skaapvertakking sal teen 2025 uitgefaseer wees.
Nou konsentreer Niel op koring, gars, kanola en hawer, en weidingsgewasse vir die laaste skape. “Ek doen baie navorsing oor saaiboerdery, want jy moet seker maak jy kry elke jaar ’n oes en ’n inkomste.”
Dit beteken ook dat die boerdery-opset eenvoudiger is. “Ons kan ons nou