Ek was sestien jaar oud toe my ma my met groot opwinding vertel dat my eerste motor buite in die oprit staan. Sy gaan wys my. Dis ons ou Ford Escort-rammelkas, The Fair Lady. Die karretjie het nie veel krag of looks nie, maar knor pligsgetrou wanneer ’n mens die sleutel draai. En sy’s stewig, gemaak vir gesinsuitstappies strand toe in Port Elizabeth (nou Gqeberha) waar ons woon; ’n kar wat sandvoete én modderstewels ken en ook nie te deftig is om die honde veeaarts toe te neem nie.
Ek is stomgeslaan. Daar’s nie ’n kans dat my pa dié besluit goedgekeur het nie. Ek kan nog nie bestuur nie en het boonop glad nie ’n dringende behoefte uitgespreek om te leer nie. Tog speel ek saam en glimlag breed.
My ma stop die sleutels in my hand met