DIT reën paddas en platannas in die Paarl, en die wind se asem is ysig.
Nou nie dat iemand hier in die Gertze-familie se huis in Rabiesdale hulle aan die weer buite steur nie. In die kuiervertrek knetter die braaivuur vrolik, en in Marseille is dit sonnig. Net reg vir gróót rugby.
Die koors loop hoog onder die familie en vriende wat vandag hier saamgetrek het om te kyk hoe Suid-Afrika en Skotland mekaar in die Franse hawestad gaan opdons. Dis ’n rugbyhuis dié.
En vir ’n slag is dit nie die stoomrollerkrag van die Springbokke se wat almal gaande het nie; dis die Wêreldbekerdebuut van twee plaaslike helde.