Herlewing van die platteland
Frankfort in die Vrystaat met sy sowat 26 000 inwoners se wortels is in die landboubedryf gesetel.
Dié dorpie is in 1869 op die plaas Roodepoort aan die oewer van die Wilgerivier uitgelê en het in 1896 munisipale status gekry. Dit was toe ’n dorp wat die landbou bedien, en is dit vandag steeds danksy die mielie-, sojaboon- en beesplase in die omgewing, asook die silo’s, meulens en landbouverskaffers se handelstakke op die dorp.
Die landbou gedy danksy die ryk landbougrond van die Oos-Vrystaat en die waterryke omgewing. Die Vaalrivier loop hierdeur en die Liebenbergsvleirivier, wat water van Lesotho af bring, voer die Wilgerivier.
Gooi ’n mens klip in Frankfort, gaan jy waarskynlik ’n geskiedkundige baken tref – soos die NG kerk wat tydens die Tweede Boereoorlog deur Britse troepe afgebrand en in 1918 herbou is.
Vandag vind ander soort veldslae plaas, met boere wat in die voorste linies veg om die behoud van hul inkomste en hul dorp.
Die vonk was ’n verset teen die wanbestuur van grondbelasting deur die Mafube-munisipaliteit, wat Frankfort, Cornelia, Villiers en Tweeling insluit. Van daar het dit uitgebrei na boere wat self paaie skraap