DAAR is ’n baie herkenbare ritme aan ’n Grand Slam-tennistoernooi, ’n twok-tok, tok-twok van rakethoue wat die minute aftel soos wat die aantal spelers stelselmatig uitgedun word. Eers is die aantrekkamer ’n miernes van 128 mededingers wat rondmaal en gesels. Maar elke dag neem die getalle af, tot net twee mense oor is in daardie gespanne stilte wat as die eindstryd bekendstaan.
Jare lank was Chris Evert en Martina Navratilova amper altyd die laaste twee, alleen gelaat in ’n vertrek so leeg maar intiem dat hulle so te sê mekaar se harte kon hoor klop. Twok-tok. Tok-twok.
Hulle het langs mekaar aangetrek. Hulle het saam gewag, soms saam geëet, en saam by die arena ingestap. En dan sou hulle mekaar takel.
Agterna sou hulle twee alleen na die kleedkamer terugkeer. Daar het hulle gestort en verklee, mekaar se triomf of trane met sydelingse blikke waargeneem.
Niemand kon verstaan presies wat hulle in daardie oomblikke ervaar het nie.
Buiten mekaar.
“Sy het my beter geken as wat ek myself geken het,” sê Martina.
Hulle ken mekaar nou 50 jaar, langer as wat die meeste huwelike hou. Afgesien van bloedfamilie, merk Martina op, “ken ek Chris langer as enigiemand anders in my lewe, en so is dit vir haar ook.”
Hulle was nog nooit nader aan mekaar as die afgelope ruk nie – iets wat hulle weier om met sentimentaliteit goedkoop te maak.
“Die vriendskap was op en af,” sê Chris. Op die ouderdomme 68 (Chris) en 66 (Martina) het die tennissterre besef hulle is meer verweef as ooit.
En die ding wat hulle deesdae soveel nader aan mekaar bind as ooit tevore?
Kanker.
“Ek het gevra maak jy ’n grap?” onthou Chris die dag toe Martina haar van haar diagnose vertel het.
Hulle het mekaar in 1973 as tieners die eerste keer ontmoet, vriende geword en toe uitmekaar gedryf soos