DIE landbou en plattelandse dorpe is onlosmaaklik deel van mekaar. Selfs al woon boere en plaaswerkers nie op die dorp nie, is hulle afhanklik van ’n sakesentrum in hul nabye omgewing. Daarom is boere nie onaangeraak deur wat in hul plaaslike munisipaliteit aangaan nie. Luidens die jongste verslag van die ouditeur-generaal het net 38 uit 257 plaaslike munisipaliteite ’n skoon oudit gekry, wat wys hoe groot die verval is.
Daar is egter ’n beweging aan die gang om dorpe mooier en skoner te maak, wat ook beter paaie en selfs beter verhoudings tussen wit en swart mense tot gevolg het.
Op Senekal het spesifieke gebeure die omwenteling gebring, terwyl genoeg is genoeg op Kroonstad en Frankfort oorgegaan het tot aksie. Dié plattelandse dorpe het ander aangesteek om moue op te rol, en nou volg selfs stadsbuurte hul voorbeeld. Agter hierdie beweging is ’n nie-amptelike netwerk, waar opheffingswerk soos ’n veldbrand versprei (sien die KASSIE “Só versprei die veldbrand”).
Slaggate in die pad
Hoewel dorpe soos Kroonstad, Senekal en Frankfort vandag modeldorpe is van hoe om die platteland te laat herleef, verg wat hulle bereik het, bloed, sweet en selfs trane.
“Jy sit dikwels met die munisipaliteit wat moeilik is