KORTOM
■ ’n Vrugteboer het ’n netstelsel ontwerp wat iets tussen ’n drapeernet en ’n vastestruktuurnet is.
■ Dit is ’n goedkoper stelsel, arbeidsvriendeliker as drapeernette en bied dieselfde beskerming aan vrugte.
■ Die nette is ’n uitstekende opsie vir bestaande boorde met hoëwaardekultivars wat nog nie onder bedekking verbou word nie.
INLIGTING
Ligging: Ceres, Wes-Kaap
Naam: Rietfontein
Grootte: 1 600 ha, waarvan 430 ha onder besproeiing
Eienaarskap: Graaff Fruit
Vertakkings: Appels, pere, wingerd, kersies, nektariens, lusern, Angusbeeste
Grondtipes: Sanderige leem, sandklei, skalie
Gemiddelde reënval: 650 mm per jaar
Wanneer Christi van den Heever, bestuurder van Graaff Fruit se plaas Rietfontein in die Koue Bokkeveld, medeboere kan help om koste te bespaar, doen hy dit graag – veral noudat die kosteknyptang boere wurg.
Hy het soveel vertroue in sy jongste plan gehad dat hy van meet af vir Robert Graaff, eienaar van Graaff nooi om te kom kyk hoe mooi die appels onder sy aangepaste drapeernetstelsel lyk. Dit bied hom al die voordele van netbedekking, maar sonder die nadele en probleme van drapeernette.