Die Wes-Kaap het die afgelope dertig jaar goeie vordering met bewaringsboerdery gemaak. Vogbewaring is sonder twyfel beter en die skaflike opbrengste wat in die afgelope droë jare behaal is, getuig daarvan. Daar is meer organiese materiaal en groter mikrobe-aktiwiteit in die grond. Al is die koolstofinhoud van grond hoër en al word kunsmis doeltreffender benut, dien boere egter nog nie deur die bank minder stikstof (N) toe nie.
Dr. Nele Verhulst, ’n landboukundige in bewaringsboerderystelsels by die internasionale sentrum vir die verbetering van mielies en koring in Mexiko, skryf in die boek Food Security and Soil Quality dat verminderde bewerking en die behoud van oesreste die organiese koolstofinhoud van die bogrond verhoog. Deklae kan boonop grondtemperatuur reguleer deur uiterstes uit te skakel en dus die regte omstandighede vir plante skep.
Die beskikbaarheid van voedingstowwe is gewoonlik gekoppel aan die uitwerking wat bewaringsboerdery op die organiese koolstofinhoud van die grond het.
Hoewel bewaringsboerdery aanvanklik die immobilisering van stikstof veroorsaak, lei dit nié tot ’n verlaging in die beskikbaarheid van stikstof nie. Dit sal eerder op die duur veroorsaak dat stikstof meer geleidelik vrygestel word.
Die geleidelike vrystelling van stikstof kan die uitloging van stikstof en die denitrifiseringsproses (die proses waardeur mikrobes nitraat en nitriet na gasvorms van stikstof reduseer) verminder as daar nie groeiende plante is om voedingstowwe te gebruik wanneer dit vrygestel word nie.