KORTOM
■ Weens roofdiere en die wisselvallige reënval is ’n speenkalfboerdery nie moontlik nie en verkies hierdie boer ’n osboerdery, wat die laagste risiko’s het.
■ In ’n droogtejaar kan hy die osse verkoop, wat nie met teeldiere wenslik is nie.
■ Osboerdery lewer die optimale inkomste per hektaar in die kortste tyd moontlik.
Veeboerdery is die grootste bedryf in Namibië, maar nie sonder risiko’s nie. Soms is dit hanteerbaar, maar plekplek is die stryd teen roofdiere só erg dat party boere nie eens 35% van hul kalwers grootkry nie.
Mnr. Thinus Pretorius, voorsitter van Namibië se Lewendehaweprodusenteorganisasie (LPO) en ondervoorsitter van die Namibiese Landbou-unie, het ’n werkbare plan gemaak op sy plaas, Phantom, by Otjiwarongo waar hy met vleisbeeste vir osproduksie en wild vir trofeejag boer. Houtskool van indringerbosse sorg vir ekstra kontantvloei.
Hy is die derde geslag van sy familie in Namibië. Sy oupa, Pieter, het in 1929 vanaf Cradock in die Oos-Kaap na Otjiwarongo verhuis, sy pa, Johan, het omstreeks 1958 gaan boer, en Thinus het hom in 1985 by sy pa aangesluit. Pieter het die onverbeterde plaas teen die prys van een Merino-ooi gekoop.