Spekuloos, spekulaas, spekulatius . . . Nee, dis nie siekte nie, as spekulatius jou dalk ’n oomblik gegooi . Dit het ook niks te doen met ’n spekulum, daai spieëlinstrument wat dokters gebruik nie. In dié tydskrif praat ons oor lekker kos. En spekuloos . . . spekulaas . . . watsenaam is ’n tradisionele broskorsspeserykoekie, botteragtig en gekaramelliseerd. Sugar and spice and all things nice . . . Dit word dikwels beskryf as ’n soort gemmerbrood, maar dis ’n bietjie misleidend. Dit het nie heeltemal dieselfde byt nie; die speserymengsel neig na geurig eerder as “warm”.
Eeue lank was dit volksbesit in die Lae Lande, ’n eetding wat met Sinterklaas geassosieer is. Mos die “oupa” van ons eie, liewe Kersvader. Spekuloos, soos dit in België genoem word, word geëet op Sint Nikolaasdag en dwarsdeur die Kerstyd. Dis eweneens gewild in Nederland, waar dit bekend is as spekulaas of windmeulkoekies, en in Duitsland, waar dit spekulatius heet. Lui dit nog nie ’n klokkie nie? Wat van Biscoff, die handelsnaam waaronder dit reg oor die wêreld verkoop word? (Kort vir biscuit with coffee.) Einste hy!
Toe die Nederlandse seevaarders in die 17de eeu die wêreld met hul seilskepe invaar, het speserye meer volop geraak. Bakkers het met